Die adjunk-minister van handel, nywerheid en mededinging, Fikile Majola, het vandag tydens verslagdoening van die departement aan die parlementêre portefeuljekomitee erken dat die spesiale ekonomiese sones in sy huidige vorm nie kan voortbestaan sonder drastiese ingryping nie.
Dit was in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus.
Die regering is nie in staat om die onderskeie industrieë volhoubaar te ondersteun nie. Dit is hoofsaaklik weens munisipaliteite se onvermoë om dienste te lewer en Eskom wat nie gereelde en betroubare kragverskaffing kan waarborg nie.
Van die faktore wat die volhoubaarheid van die sones in die wiele ry, is: Beperkte menslike hulpbronne, onwettige sakeforums wat gemeenskappe teister, provinsies wat nie toegerus is om hierdie spesiale ekonomiese sones te ondersteun nie, onvoldoende befondsing en provinsies se wanbesteding van inkomste wat onder meer uit die verhuring van persele gegenereer word.
Uit die verslagdoening is dit verder duidelik dat daar nie 'n sakeplan bestaan wat die ontwikkeling en bestuur van spesiale ekonomiese sones steun nie.
Die verhouding in private belegging van R22 miljard om 19 000 direkte werksgeleenthede te skep, midde onsekerheid oor die toekoms van belastingtoegewings om beleggers te lok, is te duur.
Dit terwyl die ekonomie steeds gebuk gaan onder die negatiewe impak van staatskaping, swak regering en die invloed van Covid-19-inperkinsgregulasies.
Slegs Coega in die Oos-Kaap, die Tshwane Auto Sone, Dube-handelspoort in Durban en die Oos-Londen-Industriële sone blyk tans volhoubaar te wees.
Die VF Plus sal as opposisieparty druk op die regering bly uitoefen om in die onderskeie departemente aan sy mandaat te voldoen en waar die party as regeervennoot in munisipaliteite dien, 'n bydrae lewer om plaaslike regering op te skerp om die nodige steun aan die sones te bied.


