fbpx
Vryheidsfront Plus

Sol Plaatje-munisipaliteit: Klag by MRK teen onwettige rioolstorting

Die VF Plus in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Ritchie) het ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) teen die onwettige storting van riool ingedien.

Rioolstorting wat die grondwater besmet en natuurlewe verwoes, is een van die groot probleme in Sol Plaatje.

Die VF Plus het gister (Donderdag 18 Mei) mnr. Anthony Wyngaard van die MRK vergesel om die probleemareas uit te wys.

Verskeie woongebiede word geraak omdat die rioolsuiweringsaanlegte nie na wense funksioneer nie.

Die Glen-rioolpompstasie, aan die westekant van Kimberley, is al vir etlike jare nie meer funksioneel nie. Die bou van ʼn nuwe rioolsuiweringsaanleg is weens wanbetaling nog nie voltooi nie.

Die Homevale-rioolsuiweringsaanleg werk net gedeeltelik. Die gevolg is dat rou riool langs Hillcrest en die Gariep-hospitaal verbystroom. Woonbuurte in die omgewing moet daagliks met hierdie stank saamleef.

Rou riool wat van Galeshewe en omliggende woonbuurte afkomstig is, vloei vir kilometers deur die veld tot anderkant Platfontein, onderdeur die R31-pad.

In 2022 is besluit om die R31, teen hoë koste, te lig, eerder as om die aanleg te herstel.

Kamfersdam word ook hierdeur geraak. Die vlakke styg onnatuurlik en dit hou ʼn bedreiging in vir die flaminke, wat daar broei.

Die verhoogde watervlak van die pan hou ook gevolge in vir die Kimberley-Kathu-spoorlyn.

De Beers se wildsplaas word ook geraak omdat die twee pompe wat gesuiwerde riool na die Vaalrivier moes wegpomp, verwyder is. Die rede daarvoor is onbekend.

Die ondersoek, in samewerking met die MRK, word vandag voortgesit.

Greenpoint se rioolsuiweringsaanleg sal onder meer besoek word. Hierdie aanleg werk al vir drie jaar nie meer nie.

Die VF Plus sal aanhou om voorkeur aan hierdie probleem te verleen.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.