fbpx
Vryheidsfront Plus

Sekuriteitsfirma beset lisensiekantore in Secunda en Bethal weens wanbetaling

Groot ongerief word veroorsaak vir inwoners van die dorpe Secunda en Bethal in die Govan Mbeki-munisipaliteit in Mpumalanga nadat ‘n sekuriteitsfirma weens nie-betaling van gelde aan hom verskuldig, die lisensiekantore en bestuurderslisensiekantore op die dorpe beset het.

Inwoners van die dorpe kan tans nie gehelp word met dié noodsaaklike dienste nie en die situasie kan moontlik nog ‘n onbepaalde tyd voortduur.

Die sekuriteitsfirma V&M-Projekte is na bewering vir twee maande nie deur die betrokke provinsiale departement vir sy dienste betaal nie.

Veiligheidswagte van dié maatskappy, wat verantwoordelik is vir die beveiliging van die departemente van vervoer en arbeid, het verskeie geboue oorgeneem. Kantoorwerkers is glo gedwing om die persele te verlaat en die deure is gesluit wat dienslewering tot ‘n totale stilstand gebring het.

Die VF Plus stem saam dat dit onaanvaarbaar is van die departement om diensverskaffers nie te betaal nie. Die firma het self groot finansiële verpligtinge soos die betaling van salarisse en lopende onkoste wat betaal moet word.

Dit is egter ewe onaanvaarbaar dat ‘n maatskappy wat nie betaal is nie, die reg in eie hande neem. Die optrede is onwettig en ten koste van die publiek wat nou in die middel van die aangeleentheid vasgevang is en gyselaar gehou word.

Die VF Plus sal die aangeleentheid onmiddellik met die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris opneem en vra om in te gryp sodat dienslewering kan voortgaan.

Die VF Plus sal toesien dat die geskil so gou as moontlik bygelê word in die belang van al die inwoners in die gebied.

Kontaknommer: 082-795-8895

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.