Die oorwinning van die SAUK-joernaliste in die Arbeidshof is ‘n groot oorwinning vir redelikheid, billikheid, grondwetlikheid en vryheid van spraak. Alles eienskappe waarsonder ‘n normale demokrasie nie ‘n demokrasie genoem kan word nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê die oorwinning stuur hopelik ook ‘n boodskap aan die leiers in die SAUK, maar ook in die ANC, dat magsmisbruik, onredelikheid en sensuur nie op die lang termyn geduld sal word nie.
“Die vraag is nou of die SAUK se leiers die saak verder gaan voer met lisensiegeld wat van die publiek kom? Omdat alle Suid-Afrikaanse burgers met ‘n televisie verplig word om lisensiegelde aan die SAUK te betaal, ongeag of jy ooit na die SAUK-uitsendings kyk of luister, beteken dat die uitsaaier aan almal, en nie aan die SAUK-leiers nie, behoort.
“Dit sal ‘n mors van openbare geld deur die SAUK wees om hierdie saak teen die joernaliste verder te voer. Indien dit wel gebeur sal die VF Plus weer vra dat na die Maatskappyewet en ander bepalings gekyk word ten einde die SAUK-leiers persoonlik verantwoordelik te hou vir die huidige onnodige regskoste asook vir toekomstige gemorste uitgawes.
“Na ‘n brief en versoek van onder meer die VF Plus kom die parlement se portefeuljekomitee wat verantwoordelik is vir die SAUK op 23 Augustus bymekaar om die huidige situasie by die SAUK te bespreek. Die verantwoordelike minister is versoek om ook teenwoordig te wees. Hopelik kan daar besluite geneem word wat die huidige swak bestuur van die SAUK kan beëindig.
“Organisasies soos Solidariteit asook alle joernaliste en ander burgerlike organisasies wat die betrokke SAUK-joernaliste in hulle stryd bygestaan het, moet deur die publiek daarvoor bedank word,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670