Die Mangaung-metroraad (Bloemfontein, Van Stadensrus, Wepener, Dewetsdorp) gebruik sy aansuiweingsbegroting om tekortkominge in die regerende party se bestuursvermoë te remedieër en tot ‘n groot mate te verbloem.
Die begrotingsproses is van die begin af wanbestuur en die feit dat ongeveer R48 miljoen op die aansuiweringsbegroting aangebring moes word, is ‘n aanduiding dat die metro nie sy begroting behoorlik kan bestuur of toepas nie.
Die aansuiweringsbegroting is gister gedurende ‘n raadsvergadering ter tafel gelê.
Die VF Plus kan nie sulke openlike wanbestuur goedkeur nie en het gevolglik teen die aansuiweringsbegroting gestem.
Sekere items op die begroting is met miljoene rande verhoog. Soliede afval, wat vullisverwydering behels is verhoog met R11 miljoen, veiligheid met R28 miljoen, die onderhoud van hysbakke met R9 miljoen en die reproduksie en verspreiding van raadstukke soos agendas en notules is verhoog met R6 miljoen.
Die verhoging van hierdie items is bloot nodig omdat dit nie van die begin af behoorlik bestuur is nie.
Dit sou verwelkom word as die verhoging van R11 miljoen vir soliede afval op nuwe en ekstra vullisverwyderingsvoertuie spandeer is. Voorts is ‘n verdere R6 miljoen verhoging vir die reproduksie van raadstukke totaal onaanvaarbaar. Hierdie bedrag is nodig omdat verskaffers se diens- en afrolpapierrekeninge nie betaal is nie.
Die wanbestuur deur die regerende party is letterlik besig om die koffers van die munisipaliteit soos ‘n lopende kraan droog te tap. Die VF Plus sal aanhou stem teen sulke blatante vermorsing van die belastingbetalers van Mangaung se geld en die wanbestuur op alle vlakke van beide plaaslike en provinsiale regering aanspreek.
Kontakbesonderhede: 082 305 1540