Daar bestaan steeds geen lasbrief in Suid-Afrika vir die inhegtenisneming van Omar al-Bashir nie, al moes Suid-Afrika dit ingevolge sy internasionale regsverpligtinge al ses jaar gelede uitgereik het.
Dit het hierdie week aan die lig gekom na ‘n parlementêre vraag van die VF Plus oor die aangeleentheid, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor justisie.
In antwoord op die vraag van adv. Alberts oor die bestaan van so ‘n lasbrief wat die departement van justisie reeds in 2009 moes uitreik nadat die Internasionale Strafhof in Den Haag sy eerste lasbrief vir al-Bashir se inhegtenisneming uitgereik het, blyk dit dat daar plaaslik groot verwarring oor die lasbrief bestaan.
Die Internasionale Strafhof het in 2010 ‘n tweede lasbrief uitgereik vir ‘n klag van misdade teen die mensdom, maar ook daarvan het niks gekom nie.
Uit die antwoord van die minister van justisie en korrektiewe dienste blyk dit dat die tweede internasionale lasbrief wel na Suid-Afrika gestuur is, maar dit het nooit by die departement van justisie vir prosessering uitgekom nie. Dit blyk ook dat daar ‘probleme is’ om vas te stel wat van die eerste lasbrief geword het.
Die minister erken dat sy departement eers na die VF Plus se vraag hieroor (24 Junie 2015) die departement vir internasionale verhoudinge en samewerking (DIRCO) versoek het om by Suid-Afrika se missie in Den Haag navraag te doen oor die ‘presiese datum’ wanneer DIRCO die lasbrief ontvang het, en wanneer dit na Suid-Afrika (justisie) gestuur is.
Adv. Alberts sê die kleitrappery in die antwoord dui op totale onbevoegdheid, alhoewel dit ook ‘n poging kan wees om toe te smeer waarom die lasbrief nooit uitgereik is nie.
“Die VF Plus gaan aan die Internasionale Strafhof skryf en hulle vra presies wanneer die lasbriewe uitgereik is, en wie van Suid-Afrika ontvangs daarvoor erken het.
“Die regering het hier duidelik sy internasionale verpligtinge versuim, hetsy opsetlik of deur onbevoegdheid. Enige hiervan sal egter daartoe bydra dat die land se vinnig groeiende internasionale muishond-status momentum kry,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403