fbpx
Vryheidsfront Plus

Ramptoestand beklemtoon onderwysramp van dekades; oplossings is moontlik en noodsaaklik

Die ramptoestand in Suid-Afrika het 'n onderwysramp van dekades beklemtoon en die gebreke in die onderwysstelsel sal opnuut in die kollig kom met die heropening van die land se skole. Skole in kusprovinsies open vandeesweek terwyl leerlinge in binnelandse provinsies verlede week terug is skool toe.

Verskeie rolspelers het reeds daarop gewys dat dit geen sin maak om grendelregulasies in skole voort te sit nie. Dit is in belang van goeie onderwys om geen verdere rotasie- en ander beperkende stelsels in dié jaar te herhaal nie, maar dit sal net die punt van die ysberg raak.

Die grondliggende probleem is die wyse waarop die ANC-regering onderwys benader. In stede daarvan om infrastruktuur uit te brei en wanpresterende skole aktief by te staan, word skole wat goeie bestuur met professionele onderwys kombineer, deur oordrewe regulering aan bande gelê. Verder word die moontlikhede wat tuisskoling bied verwaarloos, of selfs aan bande gelê.

Kragtens ANC-beleid ná 1994, word ewe veel geld op elke leerling bestee, buiten by skole waar skoolgelde nie gehef word nie – daar word meer geld per leerling bewillig. Skole wat 'n sterk leerkultuur behou of aangekweek het, het die gaping met dié daarsonder vergroot. Intussen is daar elke jaar tienduisende leerlinge meer as die vorige jaar, sonder dat infrastruktuur teen dieselfde tempo uitbrei.

Die skooljare van 2019 en 2020 se groter eise aan infrastruktuur, het die potensiaal van tuis- en aanlynonderrig op die voorgrond gestel.

Dit is moeilik om te bereken hoeveel skoolloopbane sonder ontwrigting kon voortgaan deur hierdie vorme van onderwys te gebruik aangesien skole dit verskillend aangewend het. Dit is egter duidelik dat die impak van die pandemie op onderrig, daardeur verlig is.

Binne die konteks van tuisonderrig is daar verskillende benaderings. Sommige tuisskole werk presies volgens die leerplan en ritme van gewone skole, maar doen dit net tuis en dikwels met behulp van aanlyn-diensverskaffers.

Ander het alternatiewe opvoedkundige beskouings, waar alledaagse lewens- en werksituasies as leergeleenthede aangewend word om 'n meer geïntegreerde kennisgrondslag te skep. In die oorgang van een fase na 'n ander, word gewoonlik getoets of die nodige standaarde bereik is.

Provinsiale departemente van onderwys, op wie se skouers die aanbied van onderwys rus, se taak kan aansienlik verlig word deur die verskillende vorms van tuisonderrig as voordelige toevoeging tot onderwys te verwelkom. Verder kan die hulpbronne wat aan skole bestee word, beter toegedeel word indien dié wat die vermoë het om onderwys doeltreffend aan te bied, minder gereguleer word.

Ook onafhanklike skole, wat skoolpligtige leerders onderrig sonder om eise aan die staat te stel, kan druk op die departement verlig.

Dit wil egter voorkom of die departement van basiese onderwys bereid is om eerder onderwys te verswak ter wille van gelykheid as om van suksesvolle openbare skole, onafhanklike skole en tuisskoolorganisasies te leer.

'n Goeie voorbeeld hiervan is die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (Bela), wat die departement vanjaar deur die wetgewende prosesse wil loods. Daarvolgens word openbare skole se skoolbeheerliggame aan strenger departementele regulasie onderwerp en tuisskole verder aan bande gelê.

Terwyl die pad na doeltreffende onderwys deur sterker gemeenskapsbetrokkenheid en toewyding van ouers loop, is die regering se strategie blykbaar om dit te verdun, ten gunste van groter staatsbeheer. Dit is jammer dat 'n regering nie uit sy eie mislukkings, of uit die suksesse van ander kan leer nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.