Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die kabinet ʼn wetsontwerp opstel wat staatsdepartemente sal dwing om voortaan 40% van alle aankope van maatskappye in vrouebesit te doen, is duidelik nog ʼn ANC-verkiesingsfoefie in aanloop tot die 2024-verkiesing.
Sulke wetgewing is onprakties, onuitvoerbaar en skep verwagtinge waaraan nie voldoen kan word nie.
Ramaphosa het die aankondiging gedoen nadat die VF Plus gister tydens ʼn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) daarop gewys het dat bestaande sogenaamde bemagtigingswetgewing reeds in oormaat voorsiening maak vir onder meer stappe wat vroue in die ekonomie en werkplek bevoordeel.
Die VF Plus het dit gestel dat daar ná 29 jaar van ANC-bewind en regstellende aksie-beleide, sekerlik aanbeweeg moet word na ʼn bestel waar alle burgers gelyke regte het soos gestel in die Grondwet.
Hierdie siniese poging van die ANC om staatsdepartemente te dwing om hul jongste maatskaplike ingenieursweseprojek te implementeer, sal dienslewering in die staat net verder kniehalter.
Dít in ʼn staatsdiens wat reeds gebuk gaan onder die gevolge van ongebreidelde regstellende aksie en kaderontplooiing. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie.
Dit is ʼn skande dat die ANC-regering aanhou om die staatsmasjinerie- en prosesse blatant vir partypolitieke voordeel te misbruik tot nadeel van die land.
Suid-Afrika verdien beter as die ANC.