President Cyril Ramaphosa sê grondgrype sal nie geduld word nie en dat die wet hieroor streng toegepas moet word. Tog is die werklikheid dat grondgrype wel plaasvind terwyl wetstoepassers toekyk en nie optree teen die wetsoortreders nie.
Die polisie gee nie gehoor aan grondeienaars wanneer hulle versoek word om in te gryp teen grondbesetters nie. Die polisie en metropolisie staan en toekyk hoe die wet verbreek word en vereis eers ‘n hofbevel voordat hulle bereid is om op te tree.
Pres. Ramaphosa sal sy woorde moet omskep in dade want nie almal het die geld om eers ‘n hofbevel te kry om die polisie te aktiveer om op te tree nie.
Grondgrype vind oor die land heen plaas en tussen Groblersdal en Marble Hall het grondgrypers selfs ‘n teerpad opgebreek om toegangsroetes te versper. Geen arrestasie in dié verband is nog gemaak nie en grondgrypers word oënskynlik ongestraf gelaat.
Die president sal hom drasties moet vergewis van die werklikhede op grondvlak om kennis te neem van die gevolge van onrealistiese verwagtinge oor grond wat by die massas geskep word.
Ramaphosa sal eers die toets slaag indien wetstoepassers onmiddellik optree wanneer klagtes ingedien word teen grondbesetters.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216