Die ANC-beheerde Mangaung-metro het eensydig ‘n bedrag van R100 000 vir die begrafnis van een van sy raadslede toegeken. Die feit dat die uitgawe eers na die begrafnis vir raadsgoedkeuring ter tafel gelê is, is duidend van die ANC se arrogansie en hul minagtende houding jeens belastingbetalers en die diensleweringsnood in die munisipaliteit, het Devar Smit, VF Plus-raadslid in die metro gesê.
Volgens Smit is die besluit tydens ‘n spesiale vergadering van die metroraad, wat na die begrafnis plaasgevind het, deur die ANC deurgedruk.
Smit het ook gesê dat die metro ten spyte van vele vermanings in die verlede steeds geen vaste begrafnisbeleid het nie. Daar is dus geen vaste raamwerk wat die metro se bydraes tot sy raadslede se begrafnisse bepaal en spesifiseer nie.
“Ons kan nie sulke reuse bydraes tot begrafnisse maak terwyl die nood in die metro so hoog is en belastinggeld op soveel ander plekke aangewend kan word nie.
“Ons staan nie gevoelloos teenoor die raadslid se dood en sy geliefdes se verlies nie, maar raadslede het die opsie en toegang tot ‘n pensioenfonds met begrafnisvoordele om die uitgawes van ‘n begrafnis te dek.
“Astronomiese bydraes van R100 000 sonder enige vaste beleid in hierde verband is onaanvaarbaar en die feit dat die ANC voortgegaan het daarmee alvorens die raad dit bespreek of goedgekeur het, is ‘n klap in belastingbetalers se gesig,” het Smit gesê.
Kontakbesonderhede: 084 206 3375 / 082 674 6670