President Cyril Ramaphosa moet die minister van polisie, Bheki Cele, op verlof plaas terwyl die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), sy betrokkenheid by beweerde ongerymdhede ondersoek.
Die ongerymdhede spruit voort uit die verhuring van polisiekantore in Pretoria in Durban in 2010 terwyl Cele nasionale kommissaris van polisie was.
Die totale bedrag van die huurkontrakte het R1,5 miljard beloop.
Die openbare beskermer het in 2011 in een van twee verslae oor die aangeleentheid bevind dat Cele onwettig opgetree het.
Hy is in 2012 afgedank as nasionale kommissaris en alhoewel ’n hof die afdanking in 2019 tersyde gestel het, is die ondersoek nou heropen.
Dit is ongehoord dat ’n ondersoekeenheid ’n minister moet ondersoek aan wie die ondersoekers moet rapporteer en die president sal Cele op verlof moet plaas.
Ek het vroeër vanjaar ook ’n skrywe aan die president gerig om te vra dat hy min. Cele op verlof plaas weens bewerings van ongerymdhede.
Ek het in dié skrywe gevra dat ’n regterlike kommissie van ondersoek ingestel moet word nadat ‘n adjunk-polisiekommissaris, lt.genl. Francinah Vuma, ernstige aantygings van korrupsie teen Cele gemaak het.
Lt.genl. Vuma het onder meer beweer dat Cele weer inmeng met die toekenning van kontrakte aan sekere verskaffers.
Ek versoek president Ramaphosa daarom weer in belang van behoorlike regspleging om aan hierdie versoek gehoor te gee sodat ’n onafhanklike ondersoek kan plaasvind.
Die pos as minister van polisie is baie belangrik en daar kan nie ’n wolk van omstredenheid om die persoon hang wat dit beklee nie.
Dit is belangrik dat ’n deeglike ondersoek deur ’n kommissie gedoen word om Cele se onskuld te bewys indien hy onskuldig is om hom sodoende bo verdenking te plaas.