Dit is ‘n groot skande vir ‘n land as sy nasionale vergadering besluit om ‘n debat te voer oor ‘n mosie van wantroue in die land se president, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter en LP van die VF Plus.
Dr. Groenewald het gesê daar hoef bloot na die Grondwet van Suid-Afrika gekyk te word om te sien hoe president Jacob Zuma dit vertrap.
“Die artikels wat die president raak, begin by artikel 83 en eindig by artikel 102. Die eed wat die president aflê, bepaal onder meer dat hy die belange en die regte van al die mense in Suid-Afrika moet beskerm en bevorder.
“Die president doen egter die teenoorgestelde en sê openlik die ANC kom eerste, en dan die land. Dit is ‘n verbreking van sy eed. Die president hou ‘n toespraak by die verjaardagvieringe van die ANC en sê grond is die oorsaak van armoede, werkloosheid en ongelykheid in Suid-Afrika, en dat wittes dit gesteel het.
“Artikel 83 van die Grondwet bepaal daar is ‘n grondwetlike plig op die president om nasiebou te bevorder en harmonie te skep tot voordeel van Suid-Afrika. Maar hy skep eerder wrywing en rasseverdeling.
“Die president moet die wit mense van Suid-Afrika om verskoning vra omdat hy sê hulle het die grond gesteel. Dit is ‘n leuen. Hy ondermyn met sulke uitsprake die Grondwet. Niemand kan vertroue hê in ‘n president wat gereeld sy grondwetlike verpligtinge verbreek nie,” sê dr. Groenewald.