fbpx
Vryheidsfront Plus

Premier van Gauteng, David Makhura, moet pa staan vir sterftes in hospitale onder sy leierskap

Die VF Plus in Gauteng het vandag, tydens die debat van premier David Makhura se provinsiale rede, kaalvuis onder die premier ingeklim oor die afsterwe van meer as 100 psigiatriese pasiënte, die e-tol kwessie en die onverklaarbare sterftes van mense in staatshospitale in die provinsie.

Die party se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het in ‘n sterk bewoorde toespraak teen die premier uitgevaar en hom daarvan beskuldig dat die premier homself probeer verontskuldig van hierdie sterftes.

Hy sê die VF Plus gaan nie toelaat dat die premier hiermee wegkom nie. Die party het reeds ‘n sterk saak teen die voormalige LUR van gesondheid, Qedani Mahlangu en die premier oor die sterftes waarop hulle sal moet antwoord.

“Die VF Plus het in die debat gesê premier Makhura moet aandadigheid aanvaar en dat hy nalatig was om nie teen die voormalige LUR op te tree nie al het hy geweet van die probleme in die provinsie se hospitale.

“Die VF Plus is van mening dat die premier betyds die LUR voor stok moes kry en afdank, maar in stede daarvan het hy gewag vir die ombudsman se verslag en die LUR se vrywillige bedanking.”

Van Staden het ook in sy toespraak genoem dat dit nie net die psigiatriese pasiënte is wat onder die leierskap van Makhura dood is nie, maar dat daar ook gevalle is waar mense op die mees onverklaarbare wyses in hospitale gesterf het.

“Die VF Plus sal hieroor ook die gepaste klagtes teen die premier en die voormalige LUR by die polisie aanhangig maak.

“Dit is ironies dat, terwyl die premier Maandag besig was om sy toespraak te lewer, daar buite in die straat op mense geskiet is met rubberkoeëls en traangas. Binne was die premier besig om monumente te bou en het hy voor die media ‘n baie mooi prentjie geskep van sy goeie werk, maar buite het ‘n ander prentjie ontvou.”

Oor die omstrede etol-kwessie het Van Staden gesê dat Makhura hieroor ook sy rug op die mense van Gauteng gedraai het deurdat hy Maandag aangekondig het dat die nasionale regering die saak moet oplos. Hy het gesê Makhura het nie genoeg murg in sy pype gehad het om vir die minister en president reguit te sê dat hy nie e-tol in sy provinsie gaan toelaat nie.

“Hierdie premier kan nie langer vertrou word nie. Deur hierdie optredes het hy aan die mense van die provinsie gewys dat hy niks vir hulle omgee nie en dat hy net bekommerd is oor of hy in November verkies kan word as die ANC se nasionale sekretaris in Luthuli-huis.

“Die mense van Gauteng sal nooit weer die premier vertrou nie en sal nie weer enige van sy beloftes glo nie. Die premier moet besef dat geen mooi woordjies, die oprig van monumente of die betaal van begrafnisse ooit kan vergoed vir die pyn en lyding waardeur families tans gaan nie,” sê Van Staden.

 

Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.