Die Gautengse provinsiale regering se tweejaarplan om die gehalte van dienslewering by veertig polisiekantore in die provinsie te verbeter, is grootliks onsuksesvol.
Die plan behels ondermeer dat dié betrokke polisiekantore hul misdaadsyfers met 50% moet verminder. Syfers wat onlangs bekendgemaak is, toon slegs ‘n geringe afname by sekere van die polisiekantore.
Luidens ‘n verslag van die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid wat aan die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid voorgelê is, is daar personeeltekorte by polisiekantore omdat 11 22 lede gedurende die 2018/19 boekjaar die diens om verskeie redes verlaat het.
Slegs 588 studentekonstabels is intussen aangestel wat duidelik lei tot ‘n groot ‘n personeeltekort en ‘n leemte in kundigheid en ervaring.
Die komitee het ‘n oorsigbesoek aan polisiekantore in Akasia, Atteridgeville, Etwatwa en Boksburg gebring waar openlike gesprekke met bevelvoerders gevoer is.
Die beskikbaarheid van voertuie is ‘n groot uitdaging weens beperkte begrotings en onderdele-verskaffers wie se kontrakte verval het. Baie polisiekantore het nie geskikte voertuie om klagtes te ondersoek of patrolliewerk te doen nie.
Die tekort aan ammunisie en evaluering het tot gevolg dat beamptes nie genoeg vuurwapen-opleiding ontvang nie wat daartoe lei dat 50% van die polisie-beamptes onbevoeg is om vuurwapens te hanteer.
Die personeeltekorte veroorsaak dat elke speurder meestal verantwoordelik is vir ‘n honderd of meer dossiere. In sommige gevalle het speurders tot meer as 300 dossiere elk wat ondersoek moet word en dit is uiteraard nie moontlik nie.
Nie alle polisiekantore het aanhoudingselle nie of selle is ongeskik en verhoorafwagtendes moet na naburige dorpe geneem word.
Die VF Plus sal voortgaan om druk te plaas op die Gautengse kommissaris van polisie, lt. genl. Elias Mawela, asook die LUR vir gemeenskapsveiligheid, NF Mazibuko, om planne in werking te stel sodat elke polisiebeampte in Gauteng sy werk na behore kan doen.
Die polisie is daar om te publiek te dien en om wet en orde te handhaaf en die VF Plus sal toesien dat dit gedoen word.
Kontaknommer: 066 010 1066