Dr. Pieter Groenewald (LP) is vir die komende verkiesing deur die Vryheidsfront Plus aangewys as sy premierskandidaat in Noordwes.
Groenewald is ’n gebore en getoë Noordwester wat sy skoolopleiding en universitêre opleiding in Noordwes ontvang het. Met meer as 25 jaar openbare diens en politieke betrokkenheid is hy een van die enigste Noordwes-politici wat ervaring het op al drie vlakke van regering. Op plaaslike vlak was hy burgemeester van Stilfontein (1988-1989) en op provinsiale vlak vir etlike jare lid van die Provinsiale Wetgewer in Mmabatho (1999-2001). Tans is hy parlementêre leier van die VF Plus en was hy vir lank (1994-1999) die voorsitter van die Verdedigingskomitee in die parlement.
Groenewald het verlede jaar sy doktorsgraad in politieke studies aan die Noordwes Universiteit op die Potchefstroomkampus verwerf. Sy studie het gehandel oor die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel. Daarbenewens het hy ’n regsgraad en nagraadse kwalifikasies in Kommunikasiekunde en Bestuur en Ontwikkeling.
“Noordwes het sy eie unieke probleme veral met plaaslike regering, die landbou en mynbou. Pieter is ’n gesoute politikus met jare se ervaring op al hierdie terreine. Met sy besondere akademiese kundigheid en sy jare politieke ervaring op al drie regeringsvlakke, is hy gebalanseerd toegerus en sonder twyfel die beste premierskandidaat om die belange van kiesers in Noordwes te kan dien,” sê dr. Pieter Mulder (LP), leier van die Vryheidsfront Plus.
Die ander VF Plus-kandidate in Noordwes kan beskryf word as ’n span met ervaring, kundigheid, vroue en jeugdigheid, volgens dr. Mulder
Van die 27 kandidate is 37% vroue en 37% jeugdiges van dertig jaar en jonger. Die VF se span kandidate sluit ’n ingenieur, verskeie sakelui en verskeie Noordwes-raadslede in.
Vir navrae: 083 627 4397/ 018-484 1086 / 0826746670