Die Vryheidsfront Plus se versoek aan die Openbare Beskermer in Julie 2012 om ondersoek in te stel na die tenderprosedure van die Mpumalanga provinsiale regering vir die winkelpersele op Pelgrimsrus, het vrugte afgewerp. “Soos die vermoede was, is die tenderprosedure vergiftig deur growwe onreëlmatighede en wanadministrasie waarvan sommige aspekte bedrog daarstel. Die VF Plus is verheug dat die verslag die waarheid ontbloot het. Veral die opdrag dat alle nuwe kontrakte gekanselleer word is van groot belang. Dis ‘n vroeë Kersgeskenk vir die besigheidseienaars,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê. “Ons sal nou die verslag behoorlik bestudeer en dan besin of ons kriminele klagtes teen die oortreders sal lê.”
“Voorts het ek gister met die prokureur, Pieter Steenkamp, wat die interdik namens die winkelhuurders aangevra het gekommunikeer. Hy was verheug oor die verslag aangesien hy bloot nou ‘n hofbevel kan aanvra om die verslag se bevindinge te laat afdwing,” het Alberts verder uitgewei. “Die hofaansoek sal die winkelhuurders dus baie regskostes bespaar en is dus ‘n Kersgeskenk van geregtigheid vir die onbillike behandeling wat hulle ontvang het.”
Die VF Plus sal voortgaan om wanadministrasie en korrupsie deur die ANC oop te vlek as deel van sy mandaat as opposisieparty.
Kontaknommer: 082 391 3117 / 083 419 5403