fbpx
Vryheidsfront Plus

Parlementêre presidentsdebat: Geslagsgeweld – Respek en dissipline as vertrekpunt nodig om geslagsgeweld te bestry

‘n Gebrek aan wedersydse respek en dissipline is die grondoorsake van geslagsgeweld in Suid-Afrika. Bykomende faktore soos onbevoegdheid en korrupsie in die polisie en die strafregstelsel het die probleem endemies gemaak.

Die VF Plus het sedert president Cyril Ramaphosa se eerste staatsrede gesê daar rus ‘n verpligting op die president van die land ten opsigte van nasiebou. Nogtans ervaar die Afrikaner sedert 1994 onderdrukking in die land weens ‘n verskeidenheid redes soos die ondermyning van sy taal.

Die rede waarom dit gebeur, en wat aansluit by die probleem van geslagsgeweld, is ‘n gebrek aan respek. Daar is ‘n afwesigheid aan selfrespek, respek vir mekaar en mekaar se verskille.

Die jongste misdaadsyfers rakende moord wys die hoofrede vir gesinsgeweld en -moord in Suid-Afrika is meningsverskille en argumente. Dit laat die vraag ontstaan watter voorbeeld die parlement van Suid-Afrika vir die publiek stel oor hoe om meningsverskille te besleg.

Wat die strafregstelsel aanbetref, is dit duidelik dat misdadigers geen ontsag het vir die polisie, die howe of korrektiewe dienste nie. Dit het die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat. Die rede hiervoor is hoofsaaklik korrupsie.

Dit is bekend hoe omkoopbaar polisielede, aanklaers en landdroste is. Wanneer ‘n persoon eindelik in die gevangenis beland, bring dit ook nie ‘n einde aan sy misdadigheid nie. Dan pleeg hy of sy misdaad vanuit ‘n beskermde posisie.

Saam met korrupsie sal daar ook daadwerklik opgetree moet word om van die slegte appels in die strafregstelsel ontslae te raak.

Een voorstel oor hoe om die diens van die polisie te verbeter, is die terugbring van spesialis-eenhede, veral vir geweldsmisdaad. ‘n Eenheid soos die voormalige moord-en-roofeenheid wat geweldsmisdaad direk aanspreek, sal ‘n gesindheidsverandering teweeg bring.

Dit is ironies dat daar vandag ‘n hofuitspraak was wat lyfstraf vir kinders tuis verbied. Waar laat dit dissipline en respek? Die VF Plus sê ‘n goeie pak slae op die regte tyd en op die regte wyse, sal respek afdwing en dissipline handhaaf.

Respek en dissipline moet aangekweek word, nie afgedwing word wanneer dit te laat is nie.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.