Suid-Afrika het die kundigheid om sy openbare vervoerstelsel te laat werk. Die regering moet ophou om dié mense te minag en moet begin om hul kennis te gebruik en saam met hulle te werk. Dan sal die land suksesvol wees.
Ander lande spog met moderne, stiptelike vervoerstelsels wat gebou is en onderhou word deur onder andere Suid-Afrikaanse ingenieurs wat nie in hul eie land welkom is nie weens Regstellende Aksie (RA). Dit is sinneloos. Suid-Afrikaners moet saamstaan in belang van die land en al sy mense.
‘n Vervoerstelsel is die slagare van ‘n land se ekonomie. Daarsonder kan die ekonomie nie groei nie. ‘n Goeie bewys is ‘n land soos Singapoer wat een van die modernste vervoerstelsels ter wêreld het. Dit word weerspieël in sy moderne en sterk ekonomie.
Benewens kundigheid is nog ‘n groot rede vir Suid-Afrika se sukkelende vervoerstelsel dissipline en misdaad. Polisiëring moet drasties opgeknap word, soos blyk uit die groot aantal voorvalle in die Wes-Kaap waar treine aan die brand gesteek is.
Nie almal is ewe lief vir die groot aantal taxi’s op die land se paaie nie, maar die waarheid is dat daar nie sprake sou wees van enige funksionerende, openbare vervoerstelsel daarsonder nie.
Verstedeliking is realiteit en na raming gaan sowat 70% van alle Suid-Afrikaners in die afsienbare toekoms in en om stede woon. Van hulle besit sowat 70% nie eie vervoer nie.
Die groei van informele nedersettings om stede gaan toeneem, en dit sal al hoe verder van stedelike gebiede plaasvind weens ‘n gebrek aan ruimte. ‘n Goeie openbare vervoerstelsel raak daarom al hoe belangriker.
Daar is oplossings vir die probleem en daar is die nodige kundigheid in die land. Gebruik dit. Werk vir mekaar en nie teen mekaar nie. Dan sal Suid-Afrika suksesvol wees.
Kontaknommer: 072 428 6103