Gegewe die uitbuiting van Suid-Afrika se groot rykdom aan minerale hulpbronne onder die dekmantel van onder meer Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), is dit verstaanbaar dat veranderings moet plaasvind waarby almal in Suid-Afrika sal baat vind.
Suid-Afrika is ’n land met oorvloedige minerale hulpbronne en een van die lande buite Europa met die langste mynbou-geskiedenis. Dit is ’n bedryf waaraan die staat nie te veel hoef te bestee nie. Die private sektor is vinnig om geleenthede raak te sien en op eie koste te benut. Die gevaar bestaan egter altyd dat ontginning kan ontaard in uitbuiting en dat net die ondernemers baat vind en die werkers nie.
Die departement van minerale hulpbronne en energie is daar om te keer dat mynmaatskappye die land slegter agterlaat as wat hulle dit gekry het. Dit is hoekom daar ’n staatsdepartement is wat na administrasie, veiligheid, regulering en beleid moet omsien. Die begroting daarvoor is sowat R2 miljard, byna dieselfde as die parlement se begroting.
Die staat doen sy deel nie goed nie. Afvalwater vanuit myne skep in verskillende dele van die land ’n ekologiese krisis en onwettige mynbou word ooglopend toegelaat.
Die aard van mynbou in Suid-Afrika is hoofsaaklik delwery en diepskagmynbou. In beide gevalle gebeur dit dikwels dat groot mynboumaatskappye die ontginning doen ten koste van die plaaslike gemeenskap. Dit is die ervaring van talle Nama-gemeenskappe aan die weskus van die Noord-Kaap.
Aan die ander kant is die politieke elite wat vir hulself toe-eien wat dalk aan ander behoort. Dit is wat die Griekwas van Gong-Gong aan die Vaalrivier beweer met hulle gebeur, met hul voorvaderlike grond wat nou deur vreemdes ontgin word.
Suid-Afrika is bekend vir sy grootskaalse diepskagmybou. Dit is ‘n duur proses en maatskappye wat hul oorsprong in Suid-Afrika het, brei liewer uit na bestemmings soos Kanada, Australië of ander Afrikalande. Dit beteken ‘n groot uitvloei van kapitaal na die buiteland om projekte in ander lande te befonds.
Hierdie krisis het ’n naam en ’n wetsraamwerk wat eintlik genoem moet word Gekonnnekteerde Ekonomiese Bemagtiging en die Mynbou-Onteieningshandves. In die belang van almal in Suid-Afrika moet weggedoen word met die bevoorregting van ‘n elite met politieke bande en die Mynbouhandves moet ingrypend hersien word.
Kontaknommer: 074 166 5540