Suid-Afrika se gesondheidsdiens is in ‘n moeras – nie weens ‘n tekort aan geld nie, maar weens wanbestuur, korrupsie en onkundigheid. Nou verwag die regering dat dieselfde amptenare wat vir dié chaos verantwoordelik is, sy grandiose Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) moet bedryf. Dit spreek vanself dat dit gedoem is tot mislukking.
Die minister sê net 16% van alle Suid-Afrikaners het toegang tot die huidige gesondheidstelsel. Tog lê die staatsgesondheidsdiens se voetspore tot in die verste uithoeke van die land. Dit is dus duidelik dat die probleem by dienslewering lê; by die mense wat die diens moet bedryf. En hierin misluk die ANC op skouspelagtige wyse.
Een van die hoofredes vir die mislukking is die regering se obsessie met transformasie. Die ANC transformeer alles in die land die afgrond in.
Voordat die huidige stelsel dus nie behoorlik bestuur kan word nie, is enige van droom van ‘n ander stelsel gedoem nog voordat dit begin. Die NGV-plan moet so gou doenlik geskrap word. Dit is nog ‘n ramp in wording en sal geen verbetering bring by hospitale of klinieke nie.
In die eerste plek sal ‘n gebrek aan verpleegpersoneel die NGV onmoontlik maak. Volgens die vakbond Solidariteit het 8 535 minder verpleegkundiges sedert 2013 die arbeidsmag betree en gekwalifiseerde verpleegpersoneel het sedert 2013 met 40% afgeneem. Dit is te wyte aan:
1. Swaar werkslading.
2. Lang ure.
3. Moeilike omstandighede by die werksplek.
4. ‘n Gebrek aan ondersteuning en toerusting.
5. ‘n Tekort aan geld.
Die situasie op grondvlak in die land se hospitale en klinieke is skokkend. Sekuriteit is so swak dat verpleegsters, dokters, studente en pasiënte aangerand en selfs verkrag word en pasiënte sterf in vreemde omstandighede. Selfs iemand met ‘n gebreekte been wat opgeneem word, is nie seker of hy die hospitaal lewend gaan verlaat nie.
In die tydperk van 2010 tot 2015 het die Gautengse gesondheidsdepartement skikkingsbedrae van sowat R540 miljoen betaal weens nalatigheid. Tans is R1 miljard se regseise teen die departement hangende. Esidimeni het plaasgevind weens swak bestuur. Tog, soos in ander gevalle van bedrog en korrupsie in die land, is daar geen gevolge nie.
Daar is gereeld stakings by staatshospitale weens loongeskille en hospitale en klinieke gaan gebuk onder ‘n tekort aan medisyne. Kankerpasiënte kry Panado’s vir pyn aangesien voorgeskrewe middels nie beskikbaar is nie.
Daar mag nie langer toegelaat word dat hospitale as slagpale en lykshuise bedryf word nie. Die minister sal daadwerklik moet ingryp om die land se gesondheidsdiens red. Intussen moet vergeet word van die NGV. Onder die ANC sal dit nie werk nie.
Kontaknommer: 060 556 4347