Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

OVK moet ingevolge wet nou optree teen rassistiese BLF

Die politieke party Black First Land First (BLF) maak dit baie duidelik dat hy rassisties georiënteerd is en slegs swart lede toelaat en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet die BLF daarom ingevolge wetgewing in dié verband deelname aan die komende algemene verkiesing ontsê.

Die VF Plus het die OVK reeds tydens ‘n vergadering van die kommissie se nasionale skakelvergadering van politieke partye op 17 Januarie 2019 en nou weer in ‘n skrywe versoek om BLF se registrasie as politieke party te skrap ingevolge Artikel 16 (1) (c) (ii) van die Wet op die Verkiesingskommissie.

Dié wet bepaal dat geen geregistreerde politieke party lidmaatskap aan enige persoon mag weier op grond van ‘ras, etnisiteit of kleur’ nie.

Op die BLF se amptelike webblad https://blf.org.za/blf-constitution/ word dit onomwonde gestel dat slegs swartmense lede van dié party mag word. Die party se leiers is ook gereeld in die kollig weens hul omstrede rassistiese uitsprake gemik teen wittes in die algemeen.

Die jongste hiervan was ná die tragiese ongeluk by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar vier wit kinders gesterf het toe ‘n voetbrug by die skool ineengestort het. Talle klagte in dié verband is deur die publiek, politieke partye en ander organisasies teen BLF by onder meer die MRK en die Gelykheidshof ingedien.

Die VF Plus se versoek aan die OVK lui onder meer dat die OVK die verantwoordelikheid, jurisdiksie en verpligting ingevolge die betrokke wet het om die registrasie van die BLF as politieke party te kanselleer.

Aangesien die algemene verkiesing straks binne die volgende drie maande sal plaasvind en die BLF se veldtog waarskynlik in felheid vanuit ‘n rassistiese vertrekpunt sal toeneem tot nadeel van rasseverhoudinge in Suid-Afrika, doen die VF Plus ‘n dringende beroep op die OVK om so gou moontlik op te tree.

Dit is onverstaanbaar dat die OVK ‘n beskimmelde organisasie met ‘n onbeskaamde, selferkende ingesteldheid van rassisme in die eerste plek kon toelaat om as politieke partye te registreer.

Rasseverhoudinge in Suid-Afrika is plofbaar en die land kan nie bekostig om ‘n party te hê wat veral in die spanningsvolle voorverkiesingstyd vuurhoutjies in die droë gras van gespanne menseverhoudinge gooi nie.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.