In 'n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderwys, het die ouditeur-generaal (OG) vandag gewaarsku dat die Northern Cape Rural FET College nie lewensvatbaar is nie. Dié instelling het volgens die voorlegging nie alleen in die 2019/20-boekjaar 'n bedryfsverlies gely nie, maar die verhouding tussen bates en laste is ook nie volhoubaar nie.
Hierdie kollege het kampusse in Kathu, Kuruman, Upington, De Aar en Springbok. Dit bied kursusse aan in besigheids- en ingenieurstudies. In 'n provinsie met grootskaalse werkloosheid en beperkte natuurlike hulpbronne, is 'n kundige werksmag die sleutel tot verhoogde welvaartsvlakke. Die OG se waarskuwing skep die kommer dat die teenoorgestelde sal gebeur.
Op 'n vraag van die VF Plus of die aanbeveling is dat die kollege heeltemal gesluit word, was die antwoord dat dit wel in die belang van die betrokke gemeenskappe oop moet bly, maar met 'n meer lewensvatbare besigheidsmodel. Daar is nie verder hierop uitgebrei nie.
Hierdie bevinding volg kort op die nuus dat die Vaal Universiteit van Tegnologie van sy kampus in Upington ontslae wil raak. Terselfdertyd stel die radioteleskoop (SKA) in die Noord-Kaap, tegnici van buite die provinsie aan, omdat die nodige vaardighede nie plaaslik beskikbaar is nie. In hierdie probleem mag 'n groot geleentheid vasgevang wees. Om dit vry te stel, moet die staat en private sektor in vennootskap tree, terwyl die unieke aard van die Noord-Kaap in ag geneem word. Veral die oorheersing van Afrikaans as moedertaal is belangrik.
Sol-Tech, die inisiatief van die Solidariteit Beweging om tegniese onderrig in Afrikaans aan te bied, gaan van krag tot krag. Om iets soortgelyk tot stand te bring, is in die Noord-Kaapse platteland moontlik, mits die departement van hoër onderwys sinvol met die private sektor in verhouding kan tree. Verder sal die ideologies gedrewe verwerping van Afrikaanse onderrig in die naskoolse sektor agtergelaat moet word.