Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Openbare sittings by parlement raak verleentheid vir die ANC

Die openbare sittings voor die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee oor moontlike wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding, is besig om ‘n verleentheid te raak vir die ANC-regering.

Dit raak duidelik dat die voorleggings nie uitspeel soos die ANC voorsien het nie. Die oorgrote meerderheid voorleggings deur kundige partye is nie net sterk gekant teen die onteienings-voorstel nie, maar lewer ook skerp kritiek op ANC-beleid en bevoegdheid oor die mislukking van die grondhervormingsprogram tot dusver.

Die hersieningskomitee is tans besig met sy tweede ronde sittings en die sterk teenkanting teen die verandering van Artikel 25 van die Grondwet het sterk na vore gekom.

Hierdie sittings die afgelope vier dae was spesifiek om instellings wat in hulle skriftelike voorleggings gevra het om mondelings te kom getuig die geleentheid daartoe te gee. Die teenkanting teen die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet word duidelik onderstreep deur die feit dat 33 of (82%) van die 40 mondelinge voorleggings gekant was teen die verandering van Artikel 25 van die Grondwet. Slegs 7 of (12%) was ten gunste daarvan.

Die ANC sal hierdie teenkanting, asook die meerderheid teenkanting wat in skriftelike voorleggings uitgespreek is, nie kan ignoreer nie. Meer as 700 000 skriftelike en elektroniese voorleggings is ingedien waarvan sowat 60% teen die wysiging gekant was.

‘n Proses van openbare deelname is van die grootste belang om legitimiteit te verleen aan die skep van enige nuwe wet, maar ook aan enige beplande verandering van ‘n wet. In hierdie geval meer so aangesien die land se Grondwet ter sprake is.

Alle mense in Suid-Afrika het ‘n gelyke geleentheid gehad om voorleggings te doen, en indien die meerderheid teen die ANC se beoogde verandering aan die Grondwet gekant is, sal dit regtens ‘n sterk saak stel teen enige verandering.

Dit sal die ANC loon om hierop ag te slaan. Die mense van Suid-Afrika het gepraat.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.