Die regering het nie beheer oor waterverliese in die Oos-Kaap wat in die vorige boekjaar meer as 113 miljard liter beloop het nie. Te midde van 'n erge droogte is hierdie verlies weens wanbestuur totaal onaanvaarbaar.
In antwoord op ‘n parlementêre vraag deur die VF Plus aan die minister van samewerkende regering, dr. Zweli Mkhize, het die departement erken dat dié enorme hoeveelheid water in die 2017/2018-finansiële jaar vermors is weens lekkasies wat nie reggemaak word nie.
Die vermorsing het daagliks meer as 309 miljoen liter water per dag beloop. (Sien vraag en antwoord aangeheg).
Uit die minister se antwoord blyk dit dat die Nelson Mandelabaai-metro-munisipaliteit (Port Elizabeth, Despatch en Uitenhage) die grootste sondebok was met meer as 48 miljard liter wat in die tydperk verlore gegaan het. Die metro het in die tydperk 131 miljoen liter water per dag aan lekkasies verloor.
Konserwatief geskat, het Nelson Mandelabaai R660 miljoen se water vermors weens gebrekkige instandhouding en swak infrastruktuurbestuur.
Die vermorsing van die miljarde liter water het geskied gedurende ‘n ernstige droogte wat die provinsie die afgelope paar jaar teister. Terwyl inwoners ag geslaan het op munisipaliteite se versoeke om water spaarsamig te gebruik, het owerhede misluk om hulle waterverliese weens lekkasies te beperk.
Indien die lekkasies herstel was, sou daar enorme verligting gedurende hierdie moeilike tyd bewerkstellig kon word.
Dit het nie gebeur nie. Inwoners van die Oos-Kaap was eerder die slagoffers van munisipale rade en ‘n provinsiale en nasionale regering wat nie daartoe verbind is om noodsaaklike instandhouding te doen nie.
Waar die VF Plus deel vorm van veelparty-regerings, verbeter dienslewering. Suksesse in die Tshwane-metro-munisipaliteit is reeds sigbaar. Die Oos-Kaap verdien 'n verantwoordbare regering wat sy hulpbronne aanwend om die provinsie en sy mense te bevoordeel en nie korrupte amptenare en politici nie.
Kontaknommer: 082 674 6670