Die onderverhaling van belasting is waarskynlik net ‘n rookskerm waarom Malusi Gigaba, minister van finansies, ‘n ondersoek by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gelas het, sê dr. Pieter Mulder, parlementslid van die VF Plus.
Luidens ‘n verklaring van die minister vandag, sal die ondersoek fokus op institusionele swakhede by die SAID en wat die redes is vir die onderverhaling van byna R61 miljard in belasting.
Dr. Mulder sê so ‘n ondersoek kan gedoen word sonder die direkte ingryping van die minister en die ware redes vir die ondersoek kan tweeledig wees.
“Ten eerste kon faksiegevegte tussen die Zuma- en Ramaphosa-kamp ‘n rol in die besluit gespeel het. Die faksiegevegte het lankal reeds oorgespoel na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Dit is egter ook moontlik dat ‘n heksejag nou gevoer word om vas te stel wie inligting en dokumente gelek het aan die skrywer Jacques Pauw vir sy boek, The President’s Keepers.
“Die VF Plus wil ook ‘n beroep doen op die minster van polisie, Fikile Mbalula, om die doodsdreigemente teen Pauw in ‘n ernstige lig op te neem. As die regering ernstig is om korrupsie te beveg, is dit noodsaaklik dat fluitjieblasers en die vryheid van die media deur die minister en die regering beskerm word.
Kontaknommer: 065 801 7216