Die VF Plus is geskok oor die vlaag plaasmoorde die afgelope naweek, en die stilswye daaroor van president Cyril Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele, is teleurstellend.
Pres. Ramaphosa het dadelik sy medelye uitgespreek toe enkele moskees aangeval is waarin mense gedood is en het selfs ‘n presidensiële kommissie van ondersoek aangestel na hierdie aanvalle en moorde in moskees. Oor die plaasmoorde swyg hy.
Dieselfde geld die minister van polisie wat hom ook sterk uitgespreek het teen die aanvalle en moorde in moskees, maar oor plaasmoorde word niks gesê nie.
Die drie mans wat die naweek vermoor is, is mnre. Jeffrey Zetler (62) van die plaas Mooiberge buite Stellenbosch, Kallie Schoonraad (47) van Rustenburg en Peter Dawson (64) van Hartbeespoort.
Die minister van polisie het onlangs gesê dat rooftogte by huise as deel van die trio-misdade nou ‘n prioriteit vir die polisie is. Die VF Plus se standpunt hieroor is dat ‘n plaasaanval, en daarom plaasmoorde, in dieselfde kategorie as ‘n huisroof in ‘n stad of dorp gesien kan word en daarom behoort dit dieselfde fokus en prioriteit van die polisie te geniet.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gaan in dié verband ‘n skrywe rig aan pres. Ramaphosa om te vra dat daar ook ‘n kommissie van ondersoek na plaasmoorde aangestel word, en sal ook ‘n dringende vergadering met die minister van polisie aanvra om hom te versoek dat plaasmoorde ook as prioriteit hanteer moet word.
Die VF Plus spreek sy medelye uit met die families van die vermoorde boere en die party sal voortgaan met sy stryd om die regering te laat besef dit is ‘n prioriteit om plaasmoorde effektief te bekamp.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216