Die VF Plus verwelkom die jongste regulasies wat bepaal dat vuurwapens waarvan die lisensie verval het, tuis gehou kan word terwyl die nuwe lisensiëringsproses afgehandel word.
Die regulasies is genoodsaak deur ‘n onlangse uitspraak van die Grondwethof wat bepaal dat die eienaar van ‘n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, steeds die wettige eienaar bly en nie sy eienaarskap van só ‘n vuurwapen verbeur nie.
Die aansoeker moet sy vuurwapen saamneem na die polisiekantoor waar dit geïnspekteer sal word. ‘n Sertifikaat sal daarna uitgereik word wat magtiging verleen om die vuurwapen tuis op ‘n veilige plek te hou.
‘n Vuurwapen waarvan die lisensie verval het, hoef nie meer ingehandig te word by die polisie nie.
Die nuwe regulasies word verwelkom aangesien baie vuurwapen-eienaars bekommerd was dat hul vuurwapens verlore kon raak ná inhandiging.
Hierdie proses sal ook die taak van die polisie vergemaklik aangesien daar nou groter duidelik is oor hoe om op te tree aangaande lisensies wat verval het.
Dit beteken ook dat toekomstige vuurwapen-amnesties nie meer nodig sal wees nie wat sal meebring dat die verspreiding van nuwe lisensie-aansoeke oor ‘n langer tydperk kan geskied.
Die opeenhoping van nuwe aansoeke sal sodoende voorkom word wat die administrasieproses by die nasionale vuurwapenregister sal vergemaklik.
Die VF Plus se standpunt was nog altyd dat wettige eienaars hul vuurwapens in hul besit moes kon hou terwyl die lisensiëringsproses afgehandel word.
Vir die eerste keer word daar nou behoorlik en grondwetlik oor eienaarskap opgetree met dié regulasies.