Vaag en sonder daadwerklike oplossings. Dit is in ‘n neutedop hoe die provinsiale rede van Noordwes se premier, Job Mokgoro, opgesom kan word.
Die verg nie ‘n kundige om te sien wat Noordwes se grootste probleme is nie. Munisipaliteite bestee meer as wat hulle ontvang in dienstegelde. In distriksmunisipaliteite word meer as die helfte van die begroting op salarisse bestee terwyl minder as 10% van die inkomste in kapitale projekte belê word.
Wanneer die geld finaal opraak gaan geen persoon meer toegang hê tot basiese dienste soos water, elektrisiteit, riool of vullisverwydering nie.
Nie een munisipaliteit in die Noordwes het ‘n skoon oudit van die Ouditeur-Generaal(OG) ontvang nie en steeds slaan regeringsdepartemente en munisipaliteite nie ag op die OG se aanbevelings nie.
Die vraag kan regtens gevra word hoe relevant is distriksmunisipaliteite. In stede van die samevoeging van munisipaliteite in groot, lomp entiteite, moet daar eerder gefokus word op kleiner munisipaliteite wat nader aan die gemeenskap is en wat sal lei tot meer gefokusde besluitneming.
Die VF Plus wou van die premier weet of hy werklik ernstig is oor die vasvat van korrupte aktiwiteite en bedrog in die provinsie, aangesien daar so min forensiese ouditverslae rakende ondersoeke uitgereik is. Hierdie prosesse moet ook nie gedupliseer word nie, maar moet daadwerklik opgetree word.
Premier Mokgoro noem in sy rede dat waterskaarste ‘n uitdaging in Noordwes is, maar spreek glad nie die besoedeling van varswater-bronne aan deur rioolwerke en stukkende infrastruktuur nie. Verder is die verslae rondom waterverliese in munisipaliteite weens waterlekke wat veroorsaak word deur nalatigheid en swak instandhouding skokkend.
Terwyl die premier sy kommer uitgespreek het oor bende-aktiwiteite en taxigeweld, swyg hy oor plaasmoorde en aanvalle in die provinsie. Boere en werkers van alle rasse word geraak deur die vlaag van aanvalle en moorde op plase.
Ekonomiese groei moet plaasvind. Die premier het in sy rede verwys na ekonomiese sones, en is dit die VF Plus se voorstel dat daar sulke sones geskep word wat vry is van rassesdiskriminasie, waar almal gelyke geleenthede het en waar meriete en goeie ekonomiese beginsels aan die orde van die dag is.
Daar is talle kritiese probleme wat lankal kop uitsteek in die land, soos ook in die Noordwes-provinsie. Inwoners raak desperaat en dienslewering-protesaksies raak ‘n algemene gesig.
Moeilike tye verg moeilike besluite. Soos elders in die land is ook dié provinsie se probleme eindeloos en die tyd vir leë beloftes is verby. Harde werk lê voor om Noordwes van ondergang te red.
Kontaknommer: 082 529 3001