fbpx
Vryheidsfront Plus

Noordwes Premier bied geen volhoubare oplossings in sy provinsiale rede nie

Die VF Plus is teleurgesteld in die gebrek aan enige volhoubare oplossing vir Noordwes se vele krisisse in vandag se provinsiale rede van die premier, Job Mokgoro.

Die ontwrigtende optrede van ander partye tydens die sitting van die wetgewer het ook nie gehelp nie. Dit het eerder meegewerk om die geloofwaardigheid van die land se grondwetlike strukture verder te ondermyn.

‘n Beeld van anargie, wetteloosheid en ‘n minagting vir die land se Grondwet word met hierdie optrede aan gemeenskappe oorgedra.

Mnr. Mokgoro het in sy toespraak wel erken dat byna die hele provinsie se munisipaliteite in ‘n krisis verkeer, maar hy het in gebreke gebly om met enige prakties uitvoerbare, volhoubare oplossing vorendag te kom.

Dit is in teenstelling met vroeëre uitsprake van die premier dat korrupsie daadwerklik uitgeroei sal word en daar by swak munisipaliteite ingegryp sal word om basiese dienslewering te herstel.

Die VF Plus het reeds by herhaling in die wetgewer daarop gewys dat dienslewering slegs herstel kan word deur daadwerklike ingryping en die aanstel van professionele amptenare by munisipaliteite. Deur munisipaliteite bloot onder sogenaamde administrasie te plaas, het tot dusver bloot nie gewerk nie.

In baie gevalle is slegs nuwe kanale van korrupsie weer gevestig met ‘n verdere afname in dienslewering. Die premier stel voor dat 200 000 arbeiders regoor die provinsie aangestel word om die situasie te beredder.

Dit word voorgestel terwyl dit alom bekend is dat hierdie werkskeppingsprogramme tot dusver weinig resultate opgelewer het en bloot ‘n verdere las op belastingbetalers plaas.

Verder stel hy voor dat meer boorgate in die provinsie gesink word om die watertekort te verlig. Hy is egter stil oor die miljoene liter water wat daagliks verlore gaan deur vervalle infrastruktuur en besoedeling.

Dit blyk hierdeur dat die ANC-regering of nie die omvang en erns van die situasie begryp nie, of nie die politieke wil het om korrupte en onbekwame amptenare in die provinsie vas te vat nie.

Die VF Plus doen opnuut ‘n beroep op die premier en die provinsiale regering om die voorbeeld te stel, leiding te neem en die basiese dinge reg te doen in belang van al die inwoners van Noordwes.

Kontaknommer: 082 529 3001

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.