fbpx
Vryheidsfront Plus

Nog ‘n landelike aanval by Modimolle: Paraatheid raak toenemend belangrik

Die onlangse voorval op Cyferfontein buite Nylstroom (Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit) is die laaste van talle aanvalle die afgelope jare in dié gebied.

Dit dui opnuut op die noodsaaklikheid van landelike gemeenskappe om te alle tye paraat te wees en by plaaslike veiligheidsstrukture in te skakel.

Die slagoffer, ‘n vrou van 25, het gevra dat haar naam en adres vir haar eie veiligheid weerhou word.

Volgens die vrou het vyf persone op 11 Augustus die heining na die huis geknip, die honde vergiftig en met ’n leer tot op die balkon geklim.

'n Skuifdeur is daarna oopgedwing om toegang tot die woning te verkry.

Volgens die vrou het sy wakker geword en kon betyds daarin slaag om ’n alarm te aktiveer voordat sy in ’n hangkas wegkruip het.

Die aanvallers het haar egter gevind en haar gedwing om die kluis oop te sluit. In die proses is skote langs haar afgevuur waar sy op die grond gelê het.

Voertuigligte van lede van die plaaslike veiligheidsstruktuur het die aanvallers afgeskrik en hulle het op die vlug geslaan.

Hierdie voorval dien opnuut as bewys dat paraatheid en betrokkenheid by veiligheidsstrukture veral in landelike gebiede van kardinale belang is vir beskerming en beveiliging.

Die polisie op Modimolle het aan die VF Plus gesê dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Daar is moontlik wel vingerafdrukke op die toneel gevind.

Die VF Plus het met die slagoffer geskakel en hulp aangebied aangaande traumaberading en ondersteuning.

Die party doen ‘n beroep op die polisie om alles moontlik te doen om die skuldiges vas te keer voordat hulle nog ‘n aanval uitvoer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.