Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NMBM kan nie R23 miljard net afskryf

Dit is onaanvaarbaar dat die Nelson Mandelabaai-metroraad poog om sowat R23 miljard se ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes (UIFWE) bloot af te skryf sonder ‘n behoorlike ondersoek.

Hierdie bedrag het tussen 2009 en 2021 opgeloop.

Die munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) het onlangs gestem om die afskrywing aan te beveel, ondanks ernstige kommer dat die vereiste ondersoeke nie volledig afgehandel is nie. ’n Regsmening wat aan die komitee voorgelê is, dui daarop dat baie van die eise reeds verjaar het en moeilik verhaalbaar is, maar dit onthef die komitee nie van sy plig om elke saak behoorlik te ondersoek nie.

Die VF Plus is nie gekant teen die wettige afskrywing van bedrae wat ná ’n deeglike ondersoek werklik as oninvorderbaar bevind word nie. Wat wel onaanvaarbaar is, is dat so ’n enorme bedrag bloot afgeskryf kan word sonder dat elke individuele item behoorlik ondersoek, gemotiveer en deur MPAC oorweeg is.

Die taak van MPAC is juis om toesig te hou oor die munisipaliteit se finansiële verantwoordbaarheid en om seker te maak dat openbare fondse behoorlik bestuur word. Elke UIFWE-item moet op sy eie meriete beoordeel word: Wat het gebeur, wie was verantwoordelik, is waarde vir geld gelewer, en is die geld steeds verhaalbaar.

Nelson Mandelabaai sit met die hoogste UIFWE-syfer in die land. Die nasionale tesourie (NT) het reeds die metro se billike aandeel-toelae weerhou juis weens die gebrek aan vordering met hierdie uitgawes en die afwesigheid van behoorlike aanspreeklikheid.

Indien hierdie item aan die volle raad voorgelê word voordat MPAC sy ondersoek ordentlik afgehandel het, sal die VF Plus dit teenstaan. Daar kan nie in goeie trou ingestem word tot die afskrywing van miljarde rande se openbare geld sonder dat die komitee wat juis daarvoor verantwoordelik is, sy werk behoorlik kon doen nie.

’n Afskrywing mag ook nooit beteken dat verantwoordelike amptenare of politieke ampsdraers van aanspreeklikheid vrygestel word nie. Waar daar moontlike korrupsie, bedrog, nalatigheid of ander oortredings is, moet dit ondersoek word en moet die verantwoordelike persone aanspreeklik gehou word.

Nelson Mandelabaai kan nie bekostig dat R23 miljard bloot van die boeke verdwyn nie. Elke rand behoort aan die inwoners van hierdie metro en moet verantwoord word.

Die VF Plus sal voortgaan om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die beskerming van belastingbetalers se geld te eis.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.