Die Nasionale Bemagtigingsfonds (NBF) se eensydige ondersteuning van swart sakeondernemings is besig om toenemend geld in ‘n bodemlose put van vermorsing te laat verdwyn, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Luidens berigte blyk dit dat die NBF die afgelope boekjaar R290 miljoen weens slegte skuld op lenings afgeskryf het. Die bedrag was R105 miljoen in die vorige boekjaar. ‘n Groot deel hiervan was in die boubedryf.
Adv. Alberts sê die fonds moet aangewend word om alle mense in Suid-Afrika te help, ongeag ras.
Daarbenewens is dit ook ‘n ‘duidelike vermorsing’ om bloot geld te gee aan mense met geen kennis of bevoegdheid in die sakewêreld nie.
“Wat hier gebeur, soos met grondhervormingsprogramme, toon onteenseglik dat mense nie bemagtig word deur bloot geld in hul bankrekening te betaal nie.
“Daar moet mentorskap wees in die proses. Mense moet geleer word hoe om die geld oordeelkundig aan te wend om hul onderneming te laat groei om winsgewend te wees. Daarsonder is dit soos om die geld in ‘n bodemlose put in te werp,” sê adv. Alberts.
Hy sê die feit dat sowat 18,6% van die NBF se totale leningsportefeulje en 20% van sy algehele beleggingsportefeulje afgeskryf moes word vergeleke met sy mikpunt van 15%, asook die feit dat die fonds nou wil hê die regering moet hom herkapitaliseer, dui op ‘n omvangryke krisis in die NBF.
“Die NBF word as deel van die regering se beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) gebruik om hoofsaaklik net ‘n uitgesoekte groepie reeds skatryk swartes te bevoordeel terwyl die gewone sakemense, swart en wit, wat dit werklik nodig het, geen voordeel daaruit trek nie.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is die NBF se toekenning van meer as R34 miljoen aan die swart sakevrou Khanyi Dhlomo, vir die finansiering van haar eksklusiewe boetiek Luminance, in Hydepark, Johannesburg.
“SEB en die misbruik van die fonds hou geen voordeel vir die gewone Suid-Afrikaner in nie. Dit bereik juis die teenoorgestelde deur wit en bruin te laat verarm ten koste van kader-bevoordeling.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403