Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die menseregtekommissie (MRK) dat Julius Malema, leier van die EFF, hom skuldig gemaak het aan haatspraak en aanhitsing tot geweld.
Die VF Plus het verlede maand ‘n klag teen Malema by die MRK ingedien ná die uitsprake wat Malema op die EFF se provinsiale verkiesingskonferensie in die Wes-Kaap gemaak het.
Hy het onder meer gesê daar moet “afgereken” word met ‘n wit man wat EFF-lede na bewering by ‘n skool aangerand het en dat ‘n “rewolusionêr” nie bang moet wees om “te moor” nie.
Volgens die MRK is ander oortredings moontlik ook begaan ingevolge die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie met materiaal soos plakkate wat die EFF op sy konferensie vertoon het.
Hierdie stap van die MRK word veral verwelkom aangesien talle klagte wat die VF Plus en ander organisasies oor jare teen Malema ingedien het, bloot geen reaksie gekry het nie.
Dit het duidelik die indruk by Malema laat ontstaan dat hy onaantasbaar is en kan beledig, dreig en slegsê soos hy wil sonder enige gevolge.
Die MRK sal nou moet wys dat rasverdelende uitsprake nie langer in Suid-Afrika geduld sal word nie. Dit sal niks help om bloot die uitsprake te veroordeel sonder enige optrede nie.
Die VF Plus doen daarom ’n beroep op die MRK om Malema voor die Gelykheidshof te daag. Haatdraende persone moet daarvan kennis neem dat daar nie plek is vir rassiste in Suid-Afrika nie.
Hierdie bevinding wys ook onteenseglik daarop dat uitsprake van die DA se “diversiteitskonsultant”, Asanda Ngoasheng, wat vir skoolkinders in Vishoek gesê het net wittes kan rassiste wees, ’n absolute mistasting is.
Rassiste word nie geken aan die kleur van hul vel nie, maar in wat in die hart aangaan.
Die ongrondwetlike en onaanvaarbare gedrag van mense soos Malema kan nie langer geduld word nie. Dit hoort nie in ‘n grondwetlike demokrasie nie.