Mogale City-munisipaliteit se onvermoë om wetstoepassing toe te pas is waarskynlik die rede waarom daar al hoe meer klein stortingsterreine langs die paaie in Krugersdorp en Tarlton gesien word, sê Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid vir Mogale City.
“Die vermeerdering van mense wat met trollies en sakke die strate deurkruis op soek na karton, blikkies en bottels, dra ook tot rommelstrooi by. Baie mense wat spesifieke afvalprodukte bymekaar maak, keer die asblikke om in ‘n soektog na spesifieke afvalmateriaal. Hulle vat dan waarna hul soek en los die res van die rommel sommer net so op die sypaadjies.
“Nog ‘n tendens is herwinningsentrepreneurs wat elke Donderdag by ‘n leë erf op die hoek van Robert Broom- en Vierdestraat, Krugersdorp-Noord, bymekaar kom om die materiaal uit te sorteer. Hulle is die hele dag besig waarna hulle vertrek sonder om skoon te maak,” sê rdl. Steenkamp.
Steenkamp het ook na die munisipaliteit gekap wat nie hul plig uitvoer om mense wat rommel strooi, te vervolg nie.
“Daar is streng wetgewing teen rommelstrooi maar die wet word nie toegepas nie. Ons is nou aangewese op die publiek om ons op hoogte te hou van nuwe stortingsterreine.
“Die stort van rommel in ‘n sekere area word ‘n kettingreaksie. Nie lank nie en ‘n groot stuk grond is met rommel besaai. Een so ‘n plek is ‘n oop stuk grond langs die Sterkfonteinpad waar bourommel afgelaai word. Dit het klein begin en groei daagliks. Daar is ook verskeie areas in Tarlton.
“Ek kry weekliks oproepe van hoewebewoners wat kla dat, alhoewel hulle geen dienste ontvang nie, word hulle verplig om te betaal vir elke kilogram vullis wat hulle by die Krugersdorp-stortingsterrein aflaai.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op die publiek om te help soek na ‘n oplossing. Ons moet saam werk om die probleem op te los. Krugersdorp kan nie in ‘n rommeldorp veral nie,” sê Steenkamp.
Kontaknommer: 082 806 7891