Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, se beloftes dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie dieselfde risiko’s sal in hou soos Eskom nie, is vaag en kommerwekkend. Die minister het hierdie aankondiging gemaak tydens die Hospital Association of South Africa se kongres wat tans in Kaapstad aan die gang is.
Die VF Plus is van mening dat sulke uitsprake die publiek nie net mislei nie maar ook nie die waarheid met die Suid-Afrikaanse publiek deel nie. Die minister moet verduidelik hoe die NGV nie soos Eskom groot finansiële verliese gaan ly nie en hoe die regering hierdie fonds gaan bestuur sonder dat enige korrupsie kan kop uitsteek.
Die minister moet kennis neem dat die polisie se mediese fonds, Polmed, reeds deur korrupsie geraak is waar ‘n bedrag van R15.7 miljoen onwettig aan die fonds se raad van trustees toegeken is oor ‘n tydperk van drie jaar. Hierdie raad van trustees het aan hulself salarisverhogings toegestaan.
Die NVG gaan ook beskik oor ‘n raad van trustees wat opgerig gaan word onder wetgewing van die wet op die bestuur van openbare finansies. Die moontlikheid bestaan uiteraard dat hierdie raad dieselfde pad kan loop as Polmed en nie die minister of die president kan die versekering gee dat korrupsie by die NGV nie gaan plaasvind nie.
Die VF Plus glo steeds die NGV is net nog ‘n wyse waarop die ANC-regering geld van die belastingbetaler wil bekom en dit is moeilik om in te sien dat dit nie ook eindelik in die sakke van korrupte kaders gaan beland nie. Die ANC het by herhaling gewys hy kan nie met die publiek se geld vertrou word nie.
Indien die regering werklik besorg was oor die mediese welstand van sy landsburgers, sou hy eers gesorg het dat die bestaande staatshospitale en klinieke reggeruk en opgegradeer word alvorens hy met die NGV vorendag gekom het.
Kontaknommer: 060 556 4347