Die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, het na ontkennings van haar voorganger, Malusi Gigaba, nou erken het dat Transnet se pensioenfondse self die regskoste vir die klasaksie-hofsake moet betaal, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir handel en nywerheid.
Adv. Alberts sê dit is skoknuus en beteken in effek dat die pensioenarisse se eie fondse aangewend gaan word om ‘n regsgeding te verdedig wat hulself ingestel het.
“Hierdie optrede is skandalig. In ‘n vorige geskrewe parlementere vraag het die vorige minister (Gigaba) aangedui dat Transnet al die regskostes dek. Nou moet die pensioenarisse betaal vir die opponerende respondente uit hulle eie kontant,” sê adv. Alberts.
Adv. Alberts sê toe hy vroeër vanjaar hierdie vrae gevra het, was die antwoord (in Juliemaand) dat Transnet sy koste sal befonds deur operasionele kontantvloei. Die twee fondse sou dit doen deur hul onderskeie operasionele begrotings.
In die geval van die TTVVF word sy operasionele begroting in totaal befonds deur Transnet en in die geval van die TPF deur die onderskeie werkgewers, naamlik Transnet, PRASA en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.
“Hierdie toedrag van sake voorspel niks goeds vir die eisers nie aangesien die regsgeding ‘n swaar las op die fondse sal plaas. Die VF Plus sal weer met die minister in gesprek tree oor die aangeleentheid,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403