Volgens die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Barbara Creecy, het R40 miljoen verlore gegaan weens die diefstal van perlemoen uit die regering se bergingsgeriewe. Sy het die inligting verskaf na aanleiding van ‘n vraag van die VF Plus.
Van die 681 ton perlemoen waarop die afgelope nege jaar van stropers beslag gelê is, is net 73 ton op 'n mededingende basis opgeveil aan visverwerkingsaanlegte met permitte vir wilde perlemoen.
Die massiewe hoeveelheid perlemoenvoorraad wat gesteel is, het gelei tot strafregtelike klagte teen drie amptenare in 2018. In 2018/19 was die verlies meer as R27 miljoen en in 2019/20 het die verlies R9 miljoen beloop.
Die minister het ook gesê talle veiligheidsverbeterings is by die bergingsgeriewe aangebring na die vorming van die nuwe departement, insluitend die gebruik van geslote baan-televisie, ‘n alarmstelsel met gewapende reaksie en bykomende patrollering.
Die Suid-Afrikaanse polisiediens se georganiseerde misdaadeenheid is ten volle op hoogte gebring van die perlemoendiefstal uit die regering se bergingsgeriewe.
Kontaknommer: 072 428 6103