Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Miljarde se beleggingsbeloftes, maar Matjhabeng sit in die donker

Ten spyte van die ANC-burgemeester van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit, Thanduxolo Khalipha, se herhaalde beloftes van miljarde rande se beleggings, sit inwoners van Odendaalsrus sedert verlede week weer in die donker.

’n Hoofsubstasie het uitgebrand en die munisipaliteit worstel om die situasie te herstel. Inwoners ondervind sedertdien sporadiese en onbetroubare kragtoevoer.

Matjhabeng kan nie eens die volle omvang van die skade bepaal nie weens ’n gebrek aan voldoende toegang tot die nodige toerusting en kundigheid.

Die kraginfrastruktuur in Matjhabeng se dorpe, Welkom, Odendaalsrus, Virginia, Hennenman, Allanridge en Ventersburg, is besig om heeltemal in duie te stort. Jare lange verval, swak instandhouding, diefstal en vandalisme het die netwerk tot ’n kritieke breekpunt gedryf.

Luidens die munisipaliteit se eie 2026/27-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) word R104 miljoen benodig net vir Odendaalsrus se kragnetwerk, waarvan R85 miljoen direk verband hou met gesteelde en gevandaliseerde infrastruktuur.

Bykomende honderde miljoene is nodig vir Welkom (R914 miljoen vir substasies), Allanridge (R65 miljoen) en Bronville (R22 miljoen).

Terwyl inwoners sonder betroubare elektrisiteit sit, maak die burgemeester steeds groot beloftes by beleggingsberade en mediakonferensies oor sogenaamde miljarde rande se beleggings. Hy beweer vorige berade het reeds R40 miljard se beleggings opgelewer. Tog is daar tot vandag toe geen volledige, deursigtige openbare verslag oor hoeveel van hierdie beloofde beleggings gerealiseer het, waar die geld beland het, of watter projekte voltooi is nie.

Die VF Plus het reeds in 2025 ’n volledige verslag hieroor aangevra. Daardie versoek hang steeds in die lug.

Berade en mooi beloftes los nie die krisis op nie. Wat inwoners nodig het, is elektrisiteit, water en basiese infrastruktuur wat werk en nie nog leë beloftes nie.

Nooit weer mag inwoners in die duister gelaat word oor waar hul belastinggeld aangewend word nie.

Indien die inwoners van Matjhabeng werklike verbetering, verantwoordbaarheid en goeie bestuur wil sien, is dit tyd om op 4 November vir die VF Plus te stem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.