Die VF Plus verwelkom die besluit van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Nelspruit, Barberton, Witrivier, Hazyview) om waterverbruikersoudits te implementeer.
Dit beteken dat fisieke meterlesings, maandelikse fakturering van waterverbruik en moontlike waterdiefstal maandeliks geëvalueer sal word.
Die VF Plus het die kwessie reeds tydens 'n spesiale raadsvergadering op 29 April aangespreek.
Dit het gevolg nadat die party verslae van gemeenskapslede ontvang het wat aandui dat hulle die munisipaliteit in 2012 laas vir water betaal het.
Ander verslae het aangedui dat lede van die publiek wat dispute ten opsigte van waterrekeninge het, nie fakture ontvang nie.
Hierdie situasie veroorsaak ernstige kontantvloeiprobleme vir die munisipaliteit. Dit belemmer dienslewering en beperk die aankoop van broodnodige toerusting.
Die burgemeester, me. Sibongile Makushe, het bevestig dat sy van die uitdagings bewus is en het onderneem dat die oudits beslis sal plaasvind.
Volgens haar beloop inwoners se munisipale skuld 'n paar miljoen rand. Sy het nog nie op die VF Plus se versoek aangaande die presiese bedrag reageer nie.
Die VF Plus sal verdere vrae aangaande die ouditbevindinge aan die burgemeester voorlê.
Die VF Plus is van mening dat faktuurgeskille dringend geprioritiseer en gefinaliseer moet word. Die wateroudits moet deel word van die inkomsteverbeteringsplan om kontantvloei van 'n reeds bankrot munisipaliteit te verbeter.


