fbpx
Vryheidsfront Plus

Matriek: Uitslae stabiliseer te midde van grendelstaat

Matriekuitslae van die departement van basiese onderwys wat deur minister Angie Motshekga bekendgestel is, het die afwaartse neiging van verlede jaar gestabiliseer. Dit het van 76,4% verbeter tot 76,6% wat daarop dui dat talle onderwysers, ouers en leerders vasbeslote was om hulle nie te laat onderkry nie.

Terwyl onafhanklike eksamenowerhede (IEB en Sacai) hul prestasie tydens die grendelstaat kon handhaaf of selfs verbeter, verkeer 'n groot deel van die openbare onderwyssektor ongelukkig steeds in die dryfsand.

Uit die volle jaargroep het 36,4% met baccalaureustoelating geslaag, 25,3% met diplomatoelating en 14,8% met toelating tot hoër sertifikaatstudies.

Dit is belangrik dat elke suksesvolle kandidaat die vlak waarop hy of sy matriek geslaag het, as 'n afspringplek sal gebruik om selfs meer te bereik.

Voordat daar op die leemtes in voorsiening van infrastruktuur, sanitasie en 'n algemene kultuur van leer ingegaan word, is dit belangrik om leerders wat hul beste gegee het, geluk te wens. Om graad 11 en 12 in ontwrigte skole te voltooi, vereis buitengewone inspanning om te bereik wat in 'n ander jaar vanselfsprekend sou wees. Daar is tienduisende leerders en onderwysers wat die buitengewone gedoen het en hulle moet daarvoor die hele land se erkenning ontvang.

Goeie prestasie dui steeds op gehalte en harde werk. Die finale bepaler van sukses in 'n mens se loopbaan is nie hoeveel talente jy ontvang het nie, maar hoe dit aangewend word. Daarom wens die VF Plus elke leerder geluk wat die beskikbare geleenthede aangegryp het, soms onder uiters moeilike omstandighede.

Ongelukkig is daar ook tienduisende leerders wat deur 'n totale onderwysstelsel in die steek gelaat is. Dit is waar te min skoolgeboue beskikbaar is, waar afwesigheid van skoon water en sanitasie tuis en by die skool sake bemoeilik en waar armoede 'n atmosfeer van moedeloosheid skep. Dit is moeilik om leerders in 'n see van jeugwerkloosheid te motiveer om te studeer.

In die huidige ekonomiese klimaat sou 'n doeltreffende onderwysstelsel hoop kon bring. Die werklikheid is dat slaagvereistes so laag is dat talle suksesvolle matrikulante nie verder kan studeer nie, maar ook nie toegerus is om direk tot die ekonomie toe te tree nie. Die slaagsyfer van 76,6% is dus misleidend, omdat suksesvolle kandidate wat nié met baccalaureus- of diplomatoelating slaag nie, se ekonomiese vooruitsigte uiters beperk is.

Die Nasionale Senior Sertifikaat (matriek in die volksmond) is volgens die departement 'n kwalifikasie wat leerders vir verdere studie voorberei en nie vir die werkplek nie. Die werklikheid is egter dat dit vir 'n oorweldigende meerderheid matrikulante hul finale kwalifikasie is. Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) is veronderstel om die leemte te vul deur beurse aan voornemende studente beskikbaar te stel. Dié skema is egter in 'n warboel van probleme vasgewoel en die staat kan dit al hoe minder bekostig.

'n Bykomende probleem is dat kaderontplooiing beteken dat werksgeleenthede soms meer van 'n persoon se lojaliteitsnetwerk afhang, as van meriete. Dit moedig ook nie 'n kultuur van leer en harde werk aan nie.

Onderwys behoort meer as die najaag van punte te wees, maar 'n aktiwiteit wat jongmense se horisonne verbreed en leergierigheid aankweek. Dit is voordele wat lewenslank by 'n mens bly. Indien onderwys daarin slaag, sal uitslae dit bewys. Met ander woorde, goeie uitslae is nie die doel van goeie onderwys nie, maar 'n simptoom daarvan.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.