Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, se uitlating gister dat wit boere se plase beperk moet word tot 12 000 hektaar en die res sonder vergoeding onteien en aan swartes gegee moet word, dien as bewys van die gevaarlike onkunde en die onrealistiese hantering van grond deur die ANC.
Die realiteit is dat ‘n boer in die Karoo skaars kan oorleef met 12 000 hektaar terwyl 100 hektaar in ‘n vrugbare omgewing waarskynlik dieselfde produksie kan lewer.
Mantashe se uitlating is ondeurdag en wys dat die ANC self nie weet hoe om onteiening sonder vergoeding te implementeer nie. Dié party gryp nou na grashalms om sy populistiese siening te bevorder deur onrealistiese verwagtinge by sy ondersteuners te skep.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, daag die ANC uit om sy volledige planne ten opsigte van onteiening sonder vergoeding sonder verwyl op die tafel te plaas sodat almal kan sien dat dit onrealisties is, die ekonomie nog verder gaan vernietig en voedselsekerheid sonder twyfel in gedrang sal bring.
Dit is noodsaaklik dat hierdie beleid van die ANC openbaar gemaak word sodat veral grondeienaars groter sekerheid kan kry oor wat hulle te wagte kan wees.
Die gereelde uitsprake deur senior ANC-lede dat Artikel 25 van die Grondwet reeds voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding, maar dat sy leiers dit duideliker wil uitspel met hul gevaarlike uitsprake, is misleidend aangesien die artikel wel voorsiening maak vir onteiening onder markwaarde, maar gewis nie sonder vergoeding nie.
Hierdie bontpratery van die ANC skep net verdere verwarring, en dit lei tot onsekerheid en onnodige spanning.
Dit is in belang van almal in Suid-Afrika dat die ANC se planne so gou moontlik volledig bekend gemaak moet word, en die VF Plus sal druk op die regering plaas, ook deur die parlementêre prosesse, om dit wel te doen.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216