Die Vryheidsfront Plus beskou die Magwa-teelandgoed in Lusikisiki as die SAL van die Oos-Kaapse provinsiale regering aangesien dié projek wanbestuur word, steeds finansieel van belastinggeld afhanklik is en geen wins toon nie.
Die projek het ook 2 591 werkverliese geregistreer, alhoewel dit 'n arbeidsintensiewe bedryf is.
In Februarie 2016 het die Grahamstadse hooggeregshof beslis dat die landgoed, wat toe nog onder die Oos-Kaapse Ontwikkelingskoöperasie geval het, in sakeredding geplaas moet word. Die hooggeregshof het die sakereddingsproses tot November 2017 verleng, onderhewig daaraan dat die provinsiale tesourie fondse daarvoor beskikbaar stel. R116 miljoen is bewillig, maar slegs R20 miljoen daarvan is aan die sakereddingsorganisasie oorbetaal.
Tydens ‘n oorsigbesoek van die provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee vir landelike en landbou-ontwikkeling is bevind dat die bestuur van die landgoed, wat die verantwoordelikheid van die Oos-Kaapse agentskap vir landelike ontwikkeling (ECRDA) is, gestabiliseer het, maar alhoewel die departement van landelike en landbou-ontwikkeling reeds groot bedrae in die landgoed gestort het, dit steeds nie winsgewend is nie.
Tee-produksie word belemmer weens ‘n gebrek aan masjinerie en die diversifikasie van gewasse is nog nie geïmplementeer nie. Beleggers kan ook nie gevind word om in die landgoed te belê nie.
Die VF Plus het aanbeveel dat die departement ‘n volledige bygewerkte finansiële verslag oor die fondse wat tot op hede aan die projek gegee is aan die komitee voorlê om te vergelyk met die totale netto inkomste wat die landgoed gegenereer het vanaf sy vestiging.
Grandiose planne om die landgoed te omskep in die grootste teeplantasie in die Suidelike Halfrond en ‘n belangrike rolspeler in eko-toerisme en die tee-industrie, is gedoem tot mislukking indien daar nie ‘n manier gevind word om private beleggers te lok en die landgoed los te maak van die rokspante van die Oos-Kaapse regering nie.
Die VF Plus is van mening dat die fondse wat in die bodemlose put van die Magwa-teelandgoed gestort word, beter aangewend kan word vir droogtehulp in die provinsie en die opheffing van opkomende boere.