fbpx
Vryheidsfront Plus

Mafube kan weer nie salarisse betaal nie

Die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia) kan weereens nie sy werknemers se salarisse betaal nie. Dié munisipaliteit se finansiële verknorsing word al hoe groter. Dienslewering het tot 'n stilstand gekom en die provinsiale administrasie faal die inwoners drasties.

Die VF Plus veroordeel die nie-nakoming van die munisipaliteit se verantwoordelikhede ten sterkste, aangesien inwoners deurlopend gebuk gaan onder die munisipaliteit wat nie basiese dienste kan lewer nie.

Mnr. Jan Oost, VF Plus-raadslid in die Mafube-raad, speel tans 'n rol van kritieke belang om te verseker dat sekere basiese dienste steeds gelewer word. Mnr. Oost werk saam met die sakegemeenskap van Mafube om onder meer waterpype en -pompe te herstel aangesien die munisipaliteit nie die vermoë het om dit te doen nie.

Die finansiële posisie van die Mafube-plaaslike munisipaliteit verswak alhoewel hy sedert 2017 onder provinsiale administrasie is. Dit wil voorkom of die munisipaliteit slegter daaraan toe is sedert provinsiale ingryping.

Die provinsiale ingryping is sedert die begin onreëlmatig en gebrekkig. Die provinsie het aanvanklik twee administrateurs aangewys wat opsigself ongehoord is. Die een administrateur is later as die munisipale bestuurder aangestel.

Daar bestaan vraagtekens oor die geldigheid en legitimiteit van dié aanstellingsproses. Die nasionale departement van samewerkende regering is tans met 'n ondersoek in hierdie verband besig.

Die munisipaliteit het verlede maand voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge verskyn. Dit het duidelik geblyk dat daar geen kommunikasie tussen die administrateur, die munisipale bestuurder en die raad is nie.

Dié munisipaliteit se finansiële state vir die 2017/18-boekjaar is steeds uitstaande. Dit dien as verdere bewys dat geen daadwerklike poging aangewend word om die munisipaliteit beter te bestuur nie.

Die munisipaliteit is nie ‘n lopende saak nie en die skrikwekkende agteruitgang wat die regering bewerkstellig het, blyk nie herstelbaar te wees nie.

Die VF Plus eis daadwerklike optrede en het vandag 'n dringende skrywe aan adjunkpresident David Mabuza gerig. Die adjunkpresident is verantwoordelik vir spesiale ingryping by sukkelende munisipaliteite. Mnr Mabuza het vroeër vanjaar tydens 'n vraesessie in die parlement in antwoord op 'n vraag van die VF Plus aangedui dat hy die ingryping by Mafube sal prioritiseer.

Die grootste mislukking van die ANC-regering is plaaslike regering. Die VF Plus slaan terug teen swak regering en sal voortgaan om in te tree en self te sorg dat inwoners noodsaaklike dienste ontvang.

Kontaknommer: 083 743 2042

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.