Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lotery skep en vergroot maatskaplike probleme

Die Vryheidsfront Plus is wesenlik gekant teen ‘n nasionale lotery aangesien dit juis gevoed word deur die finansiële bydraes van armes en dit sodoende eerder bedra tot maatskaplike probleme.

In Suid-Afrika is die lotery egter ‘n gegewe wat nie weggewens kan word nie en daarom moet toegesien word dat dit wetlik reg bedryf word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling.

Adv. Albert het vandag met die Tweede Lesingsdebat van die Wysigingswetsontwerp op Loterye gesê ‘n nasionale lotery is nie werklik nodig nie en die inkomste wat uit belasting gegenereer word sou voldoende wees indien dit sinvol aangewend word en die ekonomie beter bestuur word.

“Indien die jaarlikse vermorsing van staatsinkomste deur middel van vrugtelose uitgawes, wanadministrasie en korrupsie net gedeeltelik gekeer kan word, sal daar genoeg inkomste wees sodat die staat sy maatskaplike verantwoordelikhede kan uitvoer.

“Die Nasionale Lotery is egter ‘n gegewe.  Daarom is dit belangrik om toe te sien dit word wetlik reg bedryf in lyn met die Grondwet en die Wet op Nasionale Loterye,” sê adv. Alberts.

Hy sê dit is ook belangrik om toe te sien dat die wet volledig uitvoering gee aan die oorspronklike oogmerke daarvan en dat dit nie eindelik tot nadeel strek van die belastingbetalers en diegene wat daardeur bevoordeel moes word nie.

“Dit is ongelukkig wel die geval met die betrokke wet. Ek het self ondervind hoe inrigtings in Pretoria wat pasgebore babas versorg, vergeefs probeer het om geldelike hulp van die Nasionale Raad op Loterye te kry.

“Dit nieteenstaande die feit dat die meeste van die babas wat versorg word, swart is. In baie gevalle is die inrigtings nie eens geantwoord nadat aansoek gedoen is om hulp nie.

“Daarom is die veranderinge wat beoog word in die Lotery Wysigingswetsontwerp welkom. Veral die daarstelling van 'n interne hersieningsliggaam om besluite van die Raad en verspreidingsagentskappe te hersien, is van groot belang.

“Ten minste het klein en onder-befondsde organisasies, wat nie geld het om regslui aan te stel nie, nou wel 'n remedie indien hulle meen hul aansoeke is ongeregverdig afgekeur.

“Dit is ongelukkig so, en daar is ook 'n sterk persepsie onder die publiek, dat die fondse nie uitkom waar dit die nodigste is nie. So byvoorbeeld het 'n ryk skool steun ontvang vir kulturele aktiwiteite, terwyl babas nie kos het om te eet nie.

“Indien die wanaanwending van loterygeld in die proses verhinder kan word en mense gehelp kan word waar dit regtig nodig is, is daar meriete aan die beoogde wysigings aan die wet. Die regering se pogings om self die lotery te beheer, kan egter nie toegelaat word nie.

“Die oogmerke van die wet sal net realiseer indien die stelsels, en die mense in beheer daarvan, effektief, onbevooroordeeld en met sterk morele oortuigings optree. Die voortdurende waaksaamheid van alle parlementslede is hiervoor nodig,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.