Om op te maak vir sy eie mislukking as Gautengse LUR vir onderwys deur na te laat om voldoende klasse en skole te bou vir dié provinsie se groeiende aantal leerlinge, wil Panyaza Lusufi nou selfs groter druk op Afrikaanse skole plaas om hierdie las te dra en sodoende onvermydelik te verengels, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.
Luidens ‘n berig in die Bussiness Day het die Sentrum vir Kinderreg die maatskappy Cornesterone Economic Research verlede jaar gevra om ondersoek te doen na die Gautengse onderwysdepartement se belofte aan die Grondwethof om voldoende infrastruktuur daar te stel.
Daarvan het niks gekom nie en in die verslag word gemeld dat uit ‘n reusebegroting van R1,7 miljard, ‘n volle R1,3 miljard nie aangewend is nie.
Teen Maandag vandeesweek het 58 000 kinders nog gewag om plek te kry in ‘n skool. Dit is nieteenstaande ‘n projeksie van die onderwysdepartement self wat in 2014 gedoen is en wat aangetoon het dat daar teen 2020 ‘n tekort van 1 373 klaskamers in Gauteng sal wees.
Adv. Alberts sê die verslag bevestig bloot wat die VF Plus lank reeds vermoed, naamlik dat Lesufi nie sy geoormerkte begroting gebruik om nuwe skole te bou nie. Hy sê in die lig van die provinsie se swak matriekuitslae, grens dié optrede aan misdadigheid en verraad teen die provinsie se jeug.
“Dit is hierdie opsetlike verontagsaming van sy grondwetlike pligte as LUR wat Lesufi nou die ruimte gee om Afrikaanse skole te dwing om te verengels. Die Hoërskool Montana in Pretoria moes selfs ‘n interdik teen die departement kry om die inname van meer leerlinge te keer nadat die skool reeds vol was. Lesufi wil die skool egter dwing om Engelstalig te word en tog meer leerlinge in te neem.
“Die verslag dui ook aan dat Lesufi ‘n onderneming aan die Grondwethof verbreek het. Die VF Plus ondersoek tans watter stappe in hierdie verband teen hom geneem kan word.
“Die VF Plus gaan ook ‘n skrywe aan die minister van finansies, Pravin Gordhan, rig om die wanaanwending van Lesufi se begroting te ondersoek en om gepaste stappe aan te beveel. Die tyd het aangebreek dat dié LUR nou sy eie skooltassie pak en sy pos ontruim,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403