fbpx
Vryheidsfront Plus

Leë beloftes terwyl Emfuleni se rioolkrisis daagliks groter word

Daar het min gekom van die beloftes van ministers en provinsiale owerhede om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se rioolkrisis op te los. Intussen vloei 140 tot 200 miljoen liter onverwerkte rioolafval daagliks vanaf die rioolsuiweringsaanlegte en rioolpompe in die Vaalrivier.

Die minister van water en sanitasie, Lundiwe Sisulu, het reeds genoem dat R341 miljoen deur haar voorganger, Gugile Nkwinti, vir die oplos van die probleem beskikbaar gestel is, maar dit is nie duidelik wanneer die beloofde fondse beskikbaar sal wees nie.

Die LUR vir plaaslike regering, Uhuru Moiloa en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het aanbeveel dat Emfuleni sy munisipale infrastruktuur-toelaag van R168 miljoen moet hertoewys aan die sanitasie-afdeling.

Nog ’n aanbeveling is dat ’n verdere interne R53 miljoen wat vir die paaie-afdeling begroot is, oorgeplaas word na die sanitasie-afdeling. Die totale bedrag van R562 miljoen kan ’n positiewe uitkoms te weeg bring, mits dit dringend beskikbaar gestel word.

Tydens ’n onlangse inspeksie van die pompstasies, het dit aan die lig gekom dat daar net aandag gegee is aan die pompstasies wat in Junie 2018 as foutief uitgewys is. Die betrokke pompstasies is vanjaar herstel.

Die res van die pompstasies in Vereeniging is vir die laaste drie weke nie in ’n werkende toestand nie. Privaat wonings en besighede kla oor rou riool wat in hul erwe, besighede en strate instroom.

Die media berig gereeld oor die besoedeling en klagte, briewe en petisies is selfs na die kantoor van president Cyril Ramaphosa gestuur sonder enige uitkoms. Dit blyk dat daar geen dringendheid is om die dreigende humanitêre krisis op te los nie. Die ekostelsel van die Vaalrivier is reeds versteur deur die daaglikse storting van rou riool.

Kontaknommer: 076 616 2124

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.