Die inperking van beweging in Suid-Afrika wat president Cyril Ramaphosa op 23 Maart aangekondig het, beëindig heel moontlik die akademiese jaar van talle studente. Universiteite in Suid-Afrika het die akademiese jaar stormagtig afgeskop, met slegs agt uit 26 universiteite wat geen ontwrigting beleef het nie. By vier universiteite kon nog geen akademiese aktiwiteite in 2020 plaasvind nie.
Indien die inperking wel op 16 April eindig, verloor universiteite waar niks anders fout gegaan het nie, reeds drie weke akademiese tyd. Die tweede semester begin aan die meeste universiteite op 13 Julie, wat beteken dat agterstallige akademiese werk voor daardie datum ingehaal moet word. Sou die sluiting langer duur, is die vooruitsig selfs bleker.
Universiteite wat daarin kon slaag om sonder ontwrigting te begin, is dié van Stellenbosch, Pretoria, Kaapstad, Nelson Mandela Metro, Johannesburg, die Durbanse Universiteit van Tegnologie, Sefako Makgatho Mediese Universiteit en die Rhodes Universiteit in Makhanda (Grahamstad).
Klasse aan die universiteite van KwaZulu-Natal, Fort Hare, Zululand en die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie, het nog nie afgeskop nie. By die ander 14 universiteite wissel ontwrigting van lig tot ernstig en dit wissel ook van kampus tot kampus.
Terwyl die universiteite van Noordwes en die Vrystaat, byvoorbeeld, wel ontwrig is, was daar geen ontwrigting aan die Potchefstroom- en Bloemfontein-kampusse nie.
Hierdie inligting is verkry uit die antwoord van die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, dr. Blade Nzimande, op 'n parlementêre vraag van die VF Plus.
Klagtes wat tot die ontwrigting gelei het, verskil van universiteit tot universiteit. Tog duik probleme met die finansiële hulpskema, NSFAS, sowel as uitsluiting van studente op grond van akademiese wanprestasie en historiese skuld, herhaaldelik op.
Die VF Plus is bekommerd daaroor dat universiteite wat reeds gesukkel het om die akademiese jaar aan die gang te kry, nie in staat sal wees om studente se loopbane deur die bykomende ontwrigting van die Covid 19-sluiting te begelei nie.
Dit beteken dat die gaping tussen die land se top universiteite, waar aanlyn akademiese hulp reeds algemene praktyk is, en die ontwrigte universiteite se gehalte van akademiese aktiwiteit, verder gaan toeneem.
Die VF Plus vrees dat talle studente nie besef watter groot voorreg universiteitstudie in werklikheid is nie – en nou 'n akademiese jaar kan verloor as gevolg van 'n natuurramp wat met selfgemaakte ontwrigting gekombineer word.
Terwyl kontakonderrig waarskynlik gewild sal bly, behoort hierdie verloop van sake stukrag aan die onderrigmodel van private hoër onderwysinstellings soos Akademia te verleen. Hierdie instelling bied graadstudie in verskillende rigtings aan, wat op 'n bepaalde kultuur en waardestelsel gemik word, met klasse wat na onderrigsentra regoor die land herlei word.
Ná 2020 sal universiteitsonderrig nie weer dieselfde wees nie. Universiteite, sowel as studente, sal indringende selfondersoek moet doen om vas te stel hoe voorkom kan word dat die ontwrigting van hierdie jaar in die toekoms oorkom kan word. Anders kan nog 'n "verlore geslag" Suid-Afrika se lot op akademiese gebied wees.
Kontaknommer: 074 166 5540