(Parlementêre begrotingsdebat: Sport, kuns en kultuur)
Die gevolge van die Covid-19-inperkingsregulasies was vernietigend vir sportmanne, -vroue en kunstenaars in Suid-Afrika, en veral die kulturele- en uitvoerende kunssektore, wat ‘n groot rol speel in werkskepping en ekonomiese groei, kry nou net krummels van die regering om te oorleef.
Die kuns- en kultuursektore skep werk vir sowat een miljoen mense en dra sowat R70 miljard by tot die ekonomie van Suid-Afrika. Nogtans is die dié sektore se grootste bydrae, wat haas onberekenbaar is, die rol wat hulle speel in die inherente welstand van die land se mense.
R95 miljoen gaan hierdie sektore nie red nie. Net so is R72 miljoen nie voldoende om talle sportmanne en -federasies te help om geldelik te oorleef nie.
Die nasionale inperking het vele professionele sportlui en kunstenaars wat van toeskouers en besoekers afhanklik is, feitlik oornag werkloos en sonder ‘n inkomste gelaat met min of geen alternatiewe wyse om ‘n inkomste te genereer nie.
Daar was met die staat se hulp pakkette wel geringe pogings om die impak van die inperkingsmaatreëls te verlig, maar vir mense wat vir langer as ‘n honderd dae geen beroepsinkomste ontvang het nie, is dit skaars ‘n druppel aan die emmer.
Die begrotings-inperkings aan erfenisstigtings en museums is ook kommerwekkend, veral in ‘n land waar erfenis ‘n wapen in die hande van oningeligtes geraak het om politieke agendas mee te bevorder ten koste van sosiale samehorigheid.
Dit is daarom van die grootste belang dat die erfenis van alle Suid-Afrikaners bewaar en beskerm moet word en behoorlike befondsing is hiervoor nodig.
Die bydrae van sport as ‘n industrie is net so belangrik vir Suid-Afrika en ook nie net om ekonomiese redes nie. In ‘n onlangse opname van Sascoc oor die impak van Covid-19 op sport, het 83,7% van alle Sascoc-federasies aangedui dat hulle net tot einde September sal kan oorleef onder die huidige inperkingsregulasies.
Die departement van sport, kuns en kultuur het nie ‘n maklike taak wat op hom rus nie. Ewe skielik het hy nie meer jammerlike infrastruktuur en die afdwing van kosmetiese kwotas om hom oor te bekommer nie.
Die groot bedreiging is nou die voortbestaan van die kunste en die Suid-Afrikaanse sportindustrie, asook die beskerming en bewaring van onder meer ‘n hele nasie se erfenis en geskiedenis. Baie meer as die huidige sal gedoen moet word.
Navrae: 072 997 8315