Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, versoek om in te gryp by die voortdurende kragonderbrekings in die Ekurhuleni-metro (Alberton, Germiston, Benoni, Brakpan, Boksburg, Edenvale, Kemptonpark, Nigel, Springs, Midstream en omliggende gebiede).
Die kragonderbrekings word toegeskryf aan substasies wat nie meer die verhoogde ladings kan hanteer nie, min of geen opgradering van die elektrisiteitsnetwerk en kabeldiefstal wat gereeld voorkom.
In Kempton Park is verskeie areas reeds sedert Woensdagmiddag (27 Januarie) sonder elektrisiteit. ‘n Virtuele raadsvergadering van die metroraad is ook vanoggend onderbreek toe die speaker, Patricia Kumalo en haar personeel vir byna ‘n uur sonder elektrisiteit in die Germiston-raadsaal was.
Die gereelde kragonderbrekings in Ekurhuleni strem inwoners wat weens die Covid-19-inperkings genoodsaak is om van die huis te werk en ondernemings wat reeds gebuk gaan onder die swak ekonomie en die gevolge van die inperking.
Die VF Plus het reeds herhaaldelik die burgemeester, Mzwandile Masina, versoek om met die probleem te handel en te sorg dat die metroraad voorkomend optree. Die versoeke het keer op keer op dowe ore geval.
Inwoners van Ekurhuleni-metro verdien meer as om deur ‘n ANC-beheerde raad regeer te word wat nie hul welstand eerste stel nie.
Die VF Plus sal druk op die provinsiale regering plaas om dringend aandag te gee aan die elektrisiteits- en ander infrastruktuurprobleme in Ekurhuleni.