Die VF Plus verwelkom die besluit van die ANC se streek-uitvoerenderaad om die burgemeester van Emfuleni (Vanderbijlpark), Simon Mafokeng, op verpligte verlof te plaas, sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.
Dié omstrede burgemeester, wat as die KFC/Nando’s-burgemeester bekend staan, moes sy kantoor op 31 Oktober verlaat weens beweerde seksuele misdrywe. Hy sal waarskynlik binnekort in die landdroshof op verwante aanklagte verskyn.
“Burgemeester Mafokeng is gereeld ‘n eregas by funksies ter viering van Vrouemaand en het ook projekte teen die mishandeling van vroue en kinders bygewoon. Hierdie beweringe is dus ‘n klap in die gesig van vroue en kinders.
“Dit is jammer dat die burgemeester nie op munisipale sake gefokus het nie. Die benarde finansiële posisie van die raad as gevolg van korrupsie, wanbesteding en politieke binnegevegte het ‘n nuwe laagte punt bereik.
“Die ANC is nie bevoeg om Emfuleni te bestuur nie. Dit is lankal tyd vir ‘n nuwe regering,” sê Senekal.
Kontaknommer: 076 616 2124